Dit kan ’n saak wees wat ’n keerpunt is . . . die hof het vir die eerste keer opgestaan teen die aanhoudende druk van buite om ’n meer ontspanne benadering oor morele sake te hê.
John Smyth QC, direkteur van Jasa
Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se besluit om
pornografiese materiaal op drie TV-kanale toe te laat moet hersien word, het ’n
regter in die Wes-Kaapse hooggeregshof gister bevind.
Regter Lee Bozalek het gister uitspraak gelewer in die saak tussen
Okosa en On Digital Media (ODM) – wat as StarSat (voorheen TopTV) bedryf word
– en die organisasies Justice Alliance for SA (Jasa), Doctors for Life en Cause
for Justice (CFJ).
Hy het bevind dat Okosa se besluit, wat ODM toelaat om pornografie
op drie TV-kanale uit te saai, hersien en tersyde gestel moet word.
“Die saak moet ook vir heroorweging na Okosa terugverwys word,” het
Bozalek gesê.
Die kommunikasie-owerheid het op 23 April 2013 lisensies aan ODM
toegestaan om die drie TV-kanale Playboy TV, Desire TV en Private Spice te
kan uitsaai.
Die uitsaaityd sou tussen 20:00 en 05:00 gewees het.
ODM moes ook ’n dubbel-PIN-proses volg en kykers moes afsonderlik
op hierdie kanale ingeteken gewees het.
Jasa, CFJ en Doctors for Life het egter daarna ’n aansoek by die
hof ingedien waarin gevra is dat dat Okosa se besluit hersien en tersyde gestel
moet word.
Bozalek het gister in sy uitspraak gesê Okosa en ODM moet ook die
aansoekers se regskoste betaal.
Volgens Wynand Viljoen, voorsitter van CFJ, is hulle in die wolke
oor die uitspraak.
“Ons is oorstelp van vreugde. Ons het dae lank aan hierdie saak
gewerk en dit voel of ons nou die vrugte van ons harde werk pluk.”
Hy het aangevoer die saak is ’n keerpunt vir Suid-Afrika.
“. . . Dit bring ’n nuwe insig en interpretasie van pornografie deur die
howe.”
John Smyth QC, direkteur van Jasa, het ná afloop van die uitspraak
aan Beeld gesê die uitsending van
die kanale moet onmiddellik gestaak word.
“Ons is baie tevrede met die uitslag van die saak.
“Dit kan ’n saak wees wat ’n keerpunt is . . . die hof het vir die
eerste keer opgestaan teen die aanhoudende druk van buite om ’n meer ontspanne
benadering oor morele sake te hê.”