Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hier is Jayde se droomhuis
Eiendom nou in verdagte se naam, maar kan hy betaal?
Die huis van R2,3-miljoen in die rykmansbuurt, Lovemore Heights, Port-Elizabeth, wat die sakeman, Christopher Panayiotou, in 2015 gekoop het. Foto: Theo Jephta
Christopher Panayiotou in die hof. Foto: Deon Ferreira
Die huis van R2,3 miljoen in die rykmansbuurt Lovemore Heights, Port ­Elizabeth, wat die sakeman Christo­pher Panayiotou in 2015 gekoop het, spog met vier slaapkamers, 4½ badkamers en ’n dubbelmotorhuis.  Foto’s:

Christopher Panayiotou was Maandag steeds in die “haglike” St. Albans-tronk met die “slegte kos” toe hy die nuwe eienaar geword het van ’n luukse huis.

Die “droomhuis” van Christopher (28) en sy vermoorde vrou, Jayde, is die afgelope week in sy naam oorgedra.

Riaan Meyer, die vorige eienaar van die spoghuis met vier slaapkamers, 4½ badkamers en blink onthaalareas, het aan Rapport gesê hy en sy vrou het die indruk gekry die Panayiotous wou dié huis koop weens veiligheidsoorwegings.

Christopher het volgens ­Meyer drie keer na die huis gaan kyk – die eerste keer saam met sy ma, die tweede keer alleen en die derde keer saam met ­Jayde en haar ouers, wat almal in ekstase was oor hul nuwe tuiste in die Lovemore Heights-landgoed in Port Elizabeth.

Christopher het op 22 Februarie die koopkontrak van R2,35 miljoen onderteken en die transaksie is nou eers afgehandel.

Christopher het die huis net in sy naam gekoop.

“Jayde se ouers was net so opgewonde. Hulle het nog gespot deur vir hulle ’n kamer in die huis te identifiseer waar hulle sou kom bly,” vertel ­Meyer.

Volgens hom was Jayde en Christopher ewe opgewonde.

“Sy was mal oor die huis. Sy kon nie wag om daar in te trek nie.”

Maar dié droom is aan flarde geruk toe Jayde einde April ­buite die egpaar se huis ontvoer en vermoor is.

Die Panayiotou-familie en ­Jayde se familie het die afgelope week nie eens in dieselfde ry in die hof gesit nie, want die staat beskuldig Christopher se familie van die hoogste verraad.

Terwyl hy saam met sy oorstelpte vrou, ’n onderwysers, die front voorgehou het van ’n jong gesin wat vooruit boer, het hy eintlik ’n minnares gehad met wie hy Jayde wou vervang, beweer die staat.

Boonop sê die staat Christo­pher se pa het geweet van sy seun se ontrouheid, maar dit nie met Jayde se familie gedeel nie.

Christopher het in die hof erken hy het ’n buite-egtelike verhouding gehad met Chanelle Coutts (27), ’n bestuurder by die OK Grocer-winkel wat deur sy familie besit word.

Christopher het glo Luthando ­Siyoli (31), ’n uit­smyter van sy kroeg Infinity, R70 000 betaal om huurmoordenaars te kry om van sy vrou te ontslae te raak.

Coutts is steeds afgeboek weens ’n senu-ineenstorting.

Die staat staan borgtog teen en landdros Abigail Beeton sal Donderdag uitspraak lewer in die borgtogaansoek.

Intussen is dit onseker wat Christopher se plan met sy ­nuwe huis is.

Nedbank het ’n verband vir die volle koopprys van die huis geregistreer en sy verbandpaaiement is meer as R20 000 per maand. Die eerste paaiement is einde Junie betaalbaar, maar hy sit agter tralies.

Volgens Meyer is die heffing vir die landgoed R760 per maand en die erfbelasting sowat R1 100 per maand.

Christopher het boonop nog ’n verband op die huis in Kabegapark, waar hy en Jayde gewoon het.

Christopher het onder eed aan die hof gesê sy inkomste is net R30 000 per maand.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.