Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Jy word geslaan tot jy soos hy is’
Carlien en Alex de Koker gesels gister met Philip Venter, De Koker se regsverteenwoordiger. Foto: ELISE TEMPELHOFF

Michael Erasmus, medebeskuldigde van die moord op die 15-jarige Raymond Buys, was te bang om Alex de Koker teë te gaan wanneer hy dié seun aangerand het.

So het Erasmus (21) gister tydens kruisondervraging deur adv. Kobus Jacobs, vir die staat, in die Vereeniging-streekhof getuig.

“Ek het Raymond so 20 keer in 60 dae geslaan, maar dit was net in opdrag.”

Hy het getuig een van sy kollegas, Gerhard Oosthuizen, het Raymond op ’n keer gedwing om seep te eet omdat “sy asem gestink het”.

Die seun het hom glo nie teëgesit nie en het die seep geëet.

Oosthuizen het ook alles in opdrag van De Koker gedoen, het hy getuig.

Volgens Erasmus moes Raymond selfs die dag nadat hy flou geval het toe hy elektriese skokke toegedien is, driloefeninge doen.

In daardie stadium was ­Raymond se arm op twee plekke gebreek en ses van sy ribbes was gekraak.

Hy is volgens vroeëre getuienis deur Erasmus beveel om ’n klip op te tel en bokant sy kop te hou. Hy het die klip op sy kop laat val en Erasmus het hom daaroor aangerand.

Die hof het gehoor die seun is gesleep as hy nie wou regop staan nie en aangerand as hy nie aan die driloefeninge wou of kon deelneem nie.

Erasmus het gister ook getuig De Koker het aan hom ’n motor, ’n beter werk en blyplek beloof as hy al die skuld vir Raymond se aanrandings en dood op hom neem.

Jacobs het dit aan hom gestel dat hy én De Koker Raymond tot die dood toe gemartel het.

Erasmus, wat soms emosioneel geraak het, het geantwoord niemand het dit gewaag om teë te praat nie.

“Mense wat nie soos Alex was nie, is geslaan tot hulle soos hy geword het. Alex is ’n perfeksionis.”

Tania Otto, woordvoerder van die nieregeringsorganisasie Women and Men against Child Abuse, het gister gesê Raymond se ma, Wilna, kry bitter swaar.

“Dit is vir haar baie erg om in die hof te sit en te luister hoe grusaam haar seun behandel is voor hy gesterf het.”

Wilna Buys het in trane aan Beeld gesê sy kan nie verstaan waarom haar seun almal se slaansak was nie.

Casper Erasmus, Michael se pa wat tot dusver elke dag in die hof was, het gesê hy voel “bitter skuldig” teenoor sy kind en teenoor Raymond én sy ma.

“Ek het Michael toegelaat om by De Koker te werk omdat die man ’n goeie indruk op my gemaak het. Nou voel dit vir my of ek my kind na ’n slag­pale toe gestuur het.”

Die verrigtinge is tot 19 Februarie uitgestel vir vertoë.

Uitspraak sal op 27 Februarie gelewer word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.