Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Klakantoor’ in Orania

Klein jakkalsies word hier vinnig verwilder voordat hulle die wingerd, of in Orania se geval, die koring- en pekanneut­oes verwoes.

Dit is nou by die nuwe “klakantoor” wat onlangs ingerig is. Inwoners kan hier oor sonde met die bure, ernstige kattekwaad of swak bouwerk kom mor.

Selfs dwelmhandelaars en motordiewe kan nie hul jakkalsstreke wegsteek nie en word aan die kraag na die plaaslike polisiekantoor gebring.

Die nuwe Orania-veiligheid-en-regspraak-kantoor is ’n manier om burgerlike dissipline te handhaaf, sê Frans de Klerk, munisipale bestuurder.

“Orania het reeds jare lank ’n veiligheidskomitee wat orde gehandhaaf het. Ons het nou die veiligheidmaatskappy Orania Veiligheid gestig, wat ook sy eie ondersoekbeampte het. Hulle doen snags patrollies en bekyk werkaansoekers se agtergrond.”

Inwoners kan by die kantoor kla oor dinge wat pla. Daar was die aand toe kinders die asblikke in die dorpswembad uitgekeer het. Dit was glo ’n vieslike gemors.

Daar was die tannie wie se 12 katte net 10 te veel was vir haar bure (en volgens die munisipale reëls). Soos in elke dorp, is daar ook altyd iemand wat dink sy musieksmaak is so keurig dat hy dit heeldag kliphard kan speel.

’n Gekose paneel wat uit inwoners bestaan, luister na die twee kante van netelige sake en oplossings word voorgestel, of die oortreder word gedissiplineer.

“Mensekennis en ervaring word ingespan om rusies en kwelpunte op te los. Dit is nuttig as iemand met regskennis ook op die paneel sit.”

As die klagte ernstiger is, soos ’n huurder wat nie huurgeld betaal nie of bouers wat brou, moet die geskil deur bemiddeling of arbitrasie opgelos word. Sake tot R15 000 kan hier besleg word. As dit groter eise is, moet dit deur die Suid-Afrikaanse regstelsel hanteer word.

Die veiligheidspersoneel laat ernstige en misdadige optrede aan die polisie in Hopetown oor om te ondersoek.

“Ons het al iemand gevang wat dwelms verkoop het. Iemand wat aansoek om werk gedoen het, se agtergrond is nagegaan. Ons het ontdek hy is ’n gesoekte motordief. Hy is dadelik aan die polisie oorhandig. Ons glo dat as jy die klein misdade of oortredings bekamp, jy groter misdade verhoed. Mense van buite Orania is al gewoond dat munisipale oortredings nie gestraf word nie. Ons glo dit is ’n teelaarde vir burgerlike ongedissiplineerdheid, wat misdaad kan aanhits. Ons wil dit verhinder deur inwoners selfstandig te maak,” sê De Klerk.

Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania-Beweging, sê die dorp groei geweldig. “Hier kom byna daagliks nuwe inwoners aan. Daarom moet ons reëls formaliseer en sake op die korrekte, wetlike manier hanteer.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.