Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
DRANK
‘Lisensies, wet stuit nie misbruik’
‘Drankraad pas net beleid toe’
Dranklisensies en die drankwet gaan nie die maatskaplike probleme wat drank veroorsaak, oplos nie, sê die hoofbeampte van die Wes-Kaapse Drankraad, Thys Gilliomee. Foto: Ter Illustrasie, argief
Die tribunaal se werk is om volgens die nasionale witskrif soveel handelaars moontlik toegang tot die drankbedryf te gee.
Danie Cronjé

Dranklisensies en die drankwet gaan nie die maatskaplike probleme wat drank veroorsaak, oplos nie. Dit gaan ook nie drankmisbruik of alkoholisme stuit nie.

Dit was gister die mening van die hoofbeampte van die Wes-Kaapse Drankraad, Thys Gilliomee, en die voorsitter van die Provinsiale Dranktribunaal, adv. Danie Cronjé.

Gilliomee en Cronjé het voor die Wes-Kaapse staande komitee vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou verskyn.

Volgens Gilliomee is daar tans 8 400 gelisensieërde drankhandelaars in die Wes-Kaap, teenoor 25 000 onwettige drankhandelaars.

“Die omset van die drankbedryf in die Wes-Kaap beloop meer as R6 miljard per jaar en die drankraad se begroting is sowat R30 miljoen per jaar.

“Dié geld word nie net gebruik om die raad se administrasie en administratiewe pligte aan die gang te hou nie. Daar word ook van die drankraad verwag om ondersoeke te doen, opleiding oor die gevare van drankgebruik te doen en om lisensie-aansoeke en -uitreikings te hanteer. Daarby moet die raad ook onwettige drankhandelaars vervolg,” het Gilliomee gesê.

Komiteelede moet in ag neem dat die drankraad hoofsaaklik verantwoordelik is om die provinsie se drankbeleid toe te pas. Dit is die onderskeie munisipaliteite se plig om handelaars en handelsure te polisieer, het hy gesê.

Cronjé het bygevoeg dat dit ook nie die provinsiale dranktribunaal se plig is om die sosiaal-maatskaplike probleme wat drankmisbruik veroorsaak, teen te werk nie.

“Die tribunaal is ’n spesialiskomitee van die Kaapse Wetsgenootskap wat omsien na die behoeftes van organisasies soos Vinpro, die SA Forum vir Wynroetes en verskeie ondernemings soos Distell, KWV, Woolworths en Pick n Pay.”

Hy het ook gesê hy stem saam met Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, se onlangse opmerking dat die drankwet nie gebruik moet word om drankmisbruik te probeer teenwerk nie.

“Die tribunaal se werk is om volgens die nasionale witskrif soveel handelaars moontlik toegang tot die drankbedryf te gee.”

Hy het ook gesê om die wettige drankhandelaars met wetgewing te belas en beperk, skep eenvoudig skuiwergate vir onwettige handelaars.

Beverley Schäfer, komiteevoorsitter, het gesê die departement van ekonomiese geleenthede en van maatskaplike ontwikkeling sal ’n gesamentlike vergadering moet hou om die sosiaal-maatskaplike probleem van drankmisbruik te bespreek.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.