Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lotz laat kyk na bloedmerk
Hamer kon merk laat, maar handdoek is weg
Dr. David Klatzow het reeds begin om die foto van die blykbare hamerbeeld op die bebloede handdoek forensies op sy rekenaar te ontleed. Foto: Lerato Maduna
Fred van der Vyver kort nadat hy op 29 November 2007 van die moord op Inge Lotz (onder) vrygespreek is. Foto: Sharief Jaffer
Inge Lotz

’n Wit bloedbevlekte handdoek wat afgeneem is in die woonstel van die vermoorde Matie Inge Lotz is die jongste fokus van haar pa se soeke na antwoorde.

Prof. Jan Lotz glo die bloedvlek op die handdoek lyk soos die merk wat ’n hamer sou maak en dat dié handdoek meer lig op sy dogter se moord kan werp.

Prof. Jan Lotz. Foto: Nasief Manie

Die 22-jarige student se bebloede lyk is op 16 Maart 2005 in haar woonstel in die Shiraz-woonstelkompleks in Welgevonden, Stellenbosch, gevind.

Sy is herhaaldelik met ’n skerp voorwerp in die nek en bors gesteek en vermoedelik met ’n stomp voorwerp op die kop geslaan.

’n Ornamentele hamer was ’n sentrale aspek in die moordverhoor van haar destydse kêrel, Fred van der Vyver. Hy is in 2007 vrygespreek.

Die staat het beweer hy het ’n ornamentele hamer as moordwapen gebruik, maar dié bewering is deur die hof van die tafel gevee. Daar was geen teken van bloed op die hamer wat by Van der Vyver gekry is nie.

Kapt. Frans Maritz het destyds in die hof gesê hy kan nie ’n hamer as ’n moontlike wapen “insluit of uitsluit” nie.

Lotz het nou die forensiese ondersoeker dr. David Klatzow gevra om die handdoek en die smeermerk te bekyk vir leidrade. Maar dié handdoek is skoonveld, het Lotz gehoor.

Dit is egter duidelik op die foto wat deur Thomas Mollet, ’n forensiese entoesias, in die polisiedossier ontdek is. Hy het die foto aan Lotz verskaf. Die foto het nie destyds in die verhoor ter sprake gekom nie.

Dinsdag het adv. Rodney de Kock, direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Wes-Kaap, aan Lotz laat weet sy kantoor “het ongelukkig geen inligting oor waar die artikels wat u versoek is nie”.

Dr. David Klatzow (links) gesels oor die versoek van prof. Jan Lotz (regs) om ’n foto, wat die bloedafdruk van ’n ornamentele hamer op ’n bloedbevlekte wit handdoek van Inge wys, te ondersoek. Foto's: Lerato Maduna
Dr. David Klatzow, ‘n forensiese wetenskaplike, hier besig om die die forensiese foto met die bloedafdruk op die wit handdoek op sy rekenaar te ondersoek.
Die foto lig vrae uit soos hoekom dit nie in hof was nie.

Lotz sê die polisie kon hom ook nie help nie.

Daar is egter ’n klomp amptelike forensiese foto’s van goeie gehalte van die bloedbevlekte handdoek, sê hy.

Klatzow het Vrydag aan Rapport gesê hy het aan Lotz genoem hy is bereid om die foto te ondersoek, maar dat hy die oorspronklike handdoek soek.

“Dis ’n saak van verontrusting vir prof. Lotz en ’n ergernis vir my dat die staat nie die handdoek kan of wil gee nie.

“Daardie foto lig belangrike vrae uit, soos hoekom is dit nooit aan die hof voorgelê nie, waar is die handdoek en hoekom kan dit nie aan prof. Lotz terugbesorg word nie? Die handdoek kom my ­kliënt (Lotz) toe.

“ ’n Ander belangrike komponent is die DVD-houer,” sê Klatzow.

Dis die houer waarop ’n “vingerafdruk” sou wees wat ook later ’n uiters omstrede aspek van die saak geword het.

Klatzow sê die staat het destyds in die hof gesê hulle het die omslag vir die videowinkel teruggegee, maar Koos Bierman, ’n Gautengse oud-polisieman en vingerafdruk-deskundige, het later jare in die siviele eis deur Van der Vyver getuig hy het “toegang” tot die houer gehad.

“Ek wil daardie houer ook sien,” sê Klatzow. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.