Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
BEAUFORT-WES
Man sit lank vir moord en gru-aanvalle
Skuldig aan 12 van 19 aanklagte
Richard Jacobs Dinsdag ná vonnisoplegging. Foto: GARNETT WICOMB

BEAUFORT-WES. – ’n Veroordeelde moordenaar wat sy meisie se gesig met ’n baksteen gekap en haar broer doodgesteek het, is Dinsdag in die rondgaande hooggeregshof swaar gestraf.

Richard Jacobs (26) is vroeër skuldig bevind aan die moord op Patrick Lambert (20), asook poging tot moord op twee vroue, ­Bianca Botha en Henriette George. Hy is ook skuldig bevind op ’n aanklag van aanranding op nog ’n vrou, Sylvia Neels.

“Vat jou straf soos ’n man. Ek het vrede gemaak met wat gebeur het,” het Botha (24) in die hof aan Jacobs, haar voormalige vriend, gesê toe sy ter strafverswaring getuig het.

Jacobs het Botha se gesig erg geskend, maar sy het besluit om nie verdere operasies te ondergaan om haar gesig te rekonstrueer nie.

Jacobs het tereggestaan op 19 aanklagte vir misdade wat hy op ’n aand in Desember 2013, en weer op ’n aand in Januarie 2014 in Kwa-Mandlenkosi by Beaufort-Wes gepleeg het.

Hy is op 12 van die aanklagte skuldig bevind.

Hy is onskuldig bevind op aanklagte van verkragting, maar skuldig aan een van moord, drie van poging tot moord, drie van aanranding om ernstig te beseer, drie van menseroof, brandstigting en opsetlike saakbeskadiging.

Jacobs het die aand in Desember 2013 by Botha se woonplek ingebreek. Sy is met ’n mes gesteek en wreed aangerand en die woning is aan die brand gesteek. Jacobs het ’n wasmasjien voor haar kamerdeur geplaas om te keer dat sy uitkom.

Op die aand van 29 Januarie 2014 het hy vir Botha en haar twee vriendinne, Henriette ­George en Sylvia Neels, asook dié se broer, Lambert, met ’n mes gesteek. Lambert het gesterf.

Botha se gesig is sodanig vermink dat sy talle operasies moes ondergaan. Jacobs het haar met ’n gebreekte glas gekap, haar kop teen ’n muur geslaan en met ’n klip of baksteen van meer as 4 kg in die gesig gekap.

Regter Mokgoatji Delamo het Jacobs gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf op aanklag van moord, asook tot onderskeidelik 15, 10 en 10 jaar op drie aanklagte van poging tot moord, sowel as 12 jaar op ’n aanklag van menseroof.

Die vonnisse kan samelopend uitgedien word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.