Marikana-verslag: Goeienag, generaal
26 Junie 2015 02:54
Genl. Riah Phiyega se posisie as polisiehoof is onhoudbaar ná die verdoemende bevindings teen haar in die Farlam-kommissie van ondersoek na die Marikana-slagting.
Die Marikana-slagting. Foto: Felix Dlangamandla

Riah Phiyega se posisie ‘onhoudbaar’

Genl. Riah Phiyega word ingesweer tydens haar getuienis voor die Farlam-kommissie van ondersoek na die Marikana-slagting. Foto: Themba Hadebe, AP

Genl. Riah Phiyega se posisie as polisiehoof is onhoudbaar ná die verdoemende bevindings teen haar in die Farlam-kommissie van ondersoek na die Marikana-slagting.

So meen Gareth Newham, oudpolisielid en ontleder by die Instituut vir Sekerheidstudie.

Die kommissie, onder leiding van oudregter Ian Farlam, het aanbeveel dat ’n kommissie van ondersoek na die geskiktheid van Phiyega aangestel word.

“Ek dink nie sy sal ’n kommissie van ondersoek oorleef nie,” het Newham gesê.

“Ek baseer dit op die getuienis en bewyse voor die kommissie. Sy het onder eed voor die kommissie gelieg. Sy is streng daarvoor gekritiseer. Die bevindings van die kommissie teen Phiyega is verdoemend.

“Dit sal hoogs onreëlmatig wees as Zuma nié ’n kommissie van ondersoek instel nie. As hy die publiek se vertroue in die polisie wil herstel, móét dit gedoen word.”

Die Farlam-kommissie is ingestel ná die Marikana-slagting op 16 Augustus 2012 waarin 34 stakende mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is ná geweld in die voorafgaande dae waarin 10 mense dood is.

Terwyl die skuld vir die tragedie op die polisie se leierskorps en hul hantering van die operasies op dié dag gepak word, is regeringshoës, onder wie adj.pres. Cyril Ramaphosa, van alle blaam onthef.

Lees ook: 

■ ​Marikana-verslag Donderdagaand bekend; myners skepties ná Nkandla-verslag

■ Marikana: ‘Jacob Zuma wys hoe hy slagoffers minag’

■ ​Marikana-hofaansoek teen Jacob Zuma misluk

Pres. Jacob Zuma het die kernbevindings van die kommissie se verslag Donderdagaand in ’n regstreekse TV-uitsending deur die SAUK by die Uniegebou bekend gemaak.

Hy het gesê dit was ’n afgryslike gebeurtenis wat nie in ’n demokrasie tuishoort nie.

Die kommissie het bevind die polisie se taktiese plan om die geweld te stuit het “ernstige gebreke” gehad en moes nooit deurgevoer gewees het nie.

“Daar was geen vooruitsigte vir die polisie se plan om op 16 Augustus te werk nie. Hulle moes eerder tot die volgende dag gewag het,” het Zuma uit die verslag voorgelees.

Behalwe vir Phiyega se rol, bevraagteken die verslag ook die optrede van lt.genl. Zukiswa Mbombo, oudpolisiehoof van Noordwes. Mbombo het verlede maand afgetree.

Daar was geen vooruitsigte vir die polisie se plan om op 16 Augustus te werk nie.
Jacob Zuma

Die kommissie het aanbeveel Noordwes se direkteur van vervolging (DOV) moet ’n taakspan saamstel en die moontlikheid ondersoek van strafregtelike klagte teen Phiyega, Mbombo en alle betrokke polisielede.

Daar is wyd bespiegel dat Zuma die verslag sal gebruik om van Phiyega ontslae te raak.

Dianne Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor polisie, het gesê die ondersoek wat gaan volg, is presies wat met die vorige polisiekommissarisse Bheki Cele en Jackie Selebi gebeur het.

“Dit is presies wat met Phiyega behoort te gebeur. Maar dit is opvallend dat die verslag daar stop en nie na die polisieleierskorps hoër as Phiyega – die politieke leiers – verwys nie.”

Ramaphosa, Nathi Mthethwa, toe polisieminister, en Susan Shabangu, oudminister van minerale bronne, is egter van alle blaam kwytgeskeld.

Ander aanbevelings sluit in dat ’n paneel van “plaaslike en internasionale” kenners saamgestel moet word om die openbare-orde-polisiëringsprotokol te bestudeer en te hersien.

Die polisie moet “gedemilitariseer” word en opgelei word om skarebeheer toe te pas sonder dodelike geweld.

Ironies genoeg was die Marikana-omgewing in Noordwes tydens Zuma se toespraak in donkerte gehul weens beurtkrag.

Die Lonmin-platinummyn en die mynwerkersvakbonde die National Union of Mineworkers (NUM) en die Association of

Mineworkers and Construction Unions (Amcu) is ook in die verslag oor die kole gehaal.

Lonmin het nie na behore na hul werknemers se klagte geluister of betyds opgetree nie en het nie voldoende beskerming gebied aan diegene wat nie aan die stakings deelgeneem het nie.

Die NUM het “nie hul bes probeer” om hul lede se geskil met hul werkgewers op te los nie.

Amcu se leierskorps en lede het ’n “reeds plofbare situasie” vererger deur “uitlokkende” liedjies te sing en het stakers só aangehits.

- Leanne George en Pauli van Wyk

​‘Polisiehoof sal dit nie oorleef’

Genl. Riah Phiyega se posisie as polisiehoof is onhoudbaar ná die verdoemende bevindings oor haar in die Farlam-kommissie se verslag oor die Marikana-slagting.

So meen Gareth Newham, oudpolisielid en ontleder by die Instituut vir Sekerheidstudie.

“Ek dink nie sy sal ’n kommissie van ondersoek (na haar geskiktheid vir die pos) oorleef nie.

“Ek grond dit op die getuienis en bewyse voor die kommissie. Sy het onder eed voor die kommissie gelieg. Sy is kwaai daaroor gekritiseer. Die kommissie se bevindings oor Phiyega is verdoemend,” het Newham gesê.

“Dit sal hoogs onreëlmatig wees as Zuma nié ’n kommissie van ondersoek aanstel nie. As hy die publiek se vertroue in die polisie wil herstel, móét dit gedoen word.” 

– Pauli van Wyk

Familielede en weduwees van die Marikana-slagoffers volg die bekendstelling van die verslag in Lonmin se hoofkantoor by die Marikana-myn. Foto: Felix Dlangamandla

​Skuldig en nie skuldig

'NIE SY SKULD': Adj.pres. Cyril Ramaphosa
SY BES GEDOEN: Joseph Mathunjwa
GEEN BEVINDING: Nathi Mthethwa
GEEN BEVINDING: Susan Shabangu
HAAR BESLUIT: Lt.genl. Zukiswa Mbombo

Kommissie kap Lonmin, unies, maar nie Cyril

1. Lonmin:

 Die mynmaatskappy het nie genoeg gedoen om verskille tussen mynwerkers en die maatskappy self by te lê nie.

 Sy reaksie op die voortslepende staking en geweld was onvanpas.

 Hy was onverskillig in sy aandrang dat nie-stakende mynwerkers vir diens moet aanmeld.

 Die maatskappy het in gebreke gebly om aan behuisingsverpligtings vir sy werkers te voldoen.

Dit het ’n omgewing geskep wat bevorderlik is vir spanning, arbeidsonrus en verdeeldheid.

2. Amcu:

 Joseph Mathunjwa, hoof­sekretaris van Amcu, het sy bes gedoen om gemoedere te kalmeer.

 Die vakbond se beheer oor sy lede was gebrekkig.

3. NUM:

 Die vakbond het nie genoeg gedoen om konflik tussen mynwerkers te besleg nie.

 Hy het sy lede die verkeerde raad oor loononderhandelings gegee.

 Hy het geen hulp aan Lonmin verleen om met mynwerkers in gesprek te tree nie.

 Sy beheer oor werkers was gebrekkig.

4. Individuele stakers en groepe:

 Verskeie werkers en groepe se gedrag het tot geweld en dood gelei.

5. Adj.pres. Cyril Ramaphosa:

 Daar is geen bewys dat ­Ramaphosa verantwoordelik gehou kan word vir sterftes nie.

6. Nathi Mthethwa, minister van polisie:

 Geen bevinding teen hom nie.

7. Susan Shabangu, destydse minister van mynwese:

 Geen bevinding teen haar nie.

8. Polisie:

 Die polisie moes gehou het by die aanvanklike operasionale plan om betogers af te sonder en te ontwapen voordat hulle uitmekaar sou gaan.

 Daar is oorgegaan na ’n taktiese plan wat vol gebreke was. Die besluitnemingsmag is deur die polisie se nasionale beheersentrum van bevelvoerders oorgeneem en nie by offisiere op grondvlak gelaat nie.

 Die plan waarop die polisie besluit het om stakende mynwerkers uiteen te jaag, moes nooit gevolg gewees het nie.

 Dit was onmoontlik om so ’n groot groep gewapende mynwerkers so laat in die dag sonder geweld en bloedvergieting te ontwapen.

 Die besluit om op te tree, is geneem deur lt.genl. Zukiswa Mbombo, polisiekommissaris in Noordwes, en die polisie se na­sionale beheersentrum.

Mbombo het sedertdien afgetree.

​Aanbevelings

■ Lonmin se versuim om behoorlike dienste aan sy werkers te verskaf moet deur die departement van minerale bronne ondersoek word.

 Die polisie se openbare-polisiëringsfunksie moet ondersoek word en aanpassings moet gemaak word.

 Die demilitarisering van die polisie moet voorkeur kry.

 Die minister van polisie en die nasionale polisiekommissaris moet versigtig in hul uitsprake wees en staande orders moet hersien word.

 Die direkteur van openbare vervolging in Noordwes moet alle sterftes met die oog op vervolging ondersoek.

 ’n Ondersoek na die geskiktheid van die nasionale polisiekommissaris en die voormalige provinsiale kommissaris om in hul ampte te dien, behoort gedoen te word.

 Die skote wat op die stakers gevuur is, “kon die perke van selfverdediging en die beskerming van private eiendom oorskry het”. Daarom moet die direkteur van openbare vervolging in Noordwes ’n ondersoek onder leiding van ’n senior staatsadvokaat instel om die strafregtelike aanspreeklikheid van al die SAPD-lede wat by die gebeure betrokke was, te ondersoek.

Families luister oor rekenaar, want krag is af

Naasbestaandes van die 34 mynwerkers wat op 16 Augustus 2012 by Marikana dood is, luister Donderdagaand hoe pres. ­Jacob Zuma die Farlam-kommissie se verslag bekend maak. Foto: Felix Dlangamandla

Marikana. – In ’n raadsaal van Lonmin se hoofkantoor het die Marikana-weduwees Donderdagaand stil voor hulle uitgestaar terwyl hulle oor ’n skootrekenaar na pres. ­Jacob Zuma geluister het.

Hulle het nie veel reaksie getoon nie.

Kort voordat die tyd sou aanbreek dat Zuma die Farlam-kommissie se verslag oor die slagting in 2012 in die myngebied bekend sou maak, het dit duidelik geword dat die mense wat die ergste geraak is weens beurtkrag nie die TV-uitsending sou sien nie.

Teen 19:00 was die krag in Marikana, Wonderkop en die omgewing af.

Daar is nogtans geskarrel om die TV aan die gang te kry.

Toe hardloop mense rond om radio’s in die hande te probeer kry.

Lees ook:

Hofbevel kan besige Jacob Zuma dwing om Marikana-verslag uit te reik

Marikana: ‘Dwing Jacob Zuma!’

Marikana: ‘Jacob Zuma het 30 dae’

Een van die weduwees het op haar selfoon na die uitsending begin luister. Die hele vertrek het stil geword.

Toe die TV-uitsending uiteindelik op ’n skootrekenaar opgevang is, het mense oor mekaar geleun om te kan hoor wat die president sê.

Ná die uitsending het Jacob Khoba, die vakbond Amcu se streekverteenwoordiger, gevra dat die media die raadsaal verlaat sodat hy met die weduwees kon praat.

Die familielede wou volgens hul woordvoerder, Kathleen Hardy, nie kommentaar lewer nie omdat hulle nog nie werklik geweet het wat in die verslag staan nie.

In die koue donkerte het die busse die werkers oor die stowwerige vlaktes van Marikana teruggeneem na die plakkerskampe en die hostelle.

Die koppie waar die slagting op 16 Augustus 2012 plaasgevind het, was byna verlate.

Net ’n TV-span was nog doenig met ’n uitsending.

George Germishuys

Cyril se oproepe na hoës ‘het niks verander’

Daar is niks wat hy gesê of gedoen het wat die teendeel bewys nie.

Cyril Ramaphosa kan nie as die oorsaak van die Marikana-slagting gesien word nie, het die Farlam-kommissie bevind.

Ramaphosa, nou die adjunkpresident, was in Augustus 2012 ’n nie-uitvoerende direkteur van Lonmin.

Hy het tydens die slagting, waarin 34 Marikana-mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is, sy politieke invloed gebruik om kontak met Nathi Mthethwa, destydse minister van polisie, en Susan Shabangu, voormalige minister van minerale bronne, te maak.

Ramaphosa is daarna daarvan beskuldig dat die dringende oproepe wat hy na Mthethwa gemaak het om die situasie te beredder, die sneller was vir die polisiegeweld.

Maar die Farlam-kommissie het bevind dat daar “geen rede is om te glo dat die polisie anders sou optree as Ramaphosa Mthethwa nié gekontak het nie”.

Ramaphosa se getuienis voor die kommissie was dat sy belang daarby was om ’n situasie te keer waar “meer en meer mense doodgemaak sou word”.

“Daar is niks wat hy gesê of gedoen het wat die teendeel bewys nie,” het die getuienisleiers aangevoer.

“Dit blyk dus dat Ramaphosa se ingryping met die minister nie onvanpas of ontoelaatbaar was nie.”

Pauli van Wyk

Die Marikana-slagting. Foto: Felix Dlangamandla

Politieke partye stel visier op Ramaphosa, eis Phiyega se kop

Oudregter Ian Farlam

Hy is dalk verontskuldig in die Farlam-kommissie se verslag, maar adj.pres. Cyril Ramaphosa moenie dink die stof gaan nou lê oor die e-posse wat hy die dag voor die Marikana-slagting gestuur het nie.

Kort nadat pres. Jacob Zuma Donderdagaand die bevindings oor die gebeure op 16 Augustus 2012, toe 34 stakende mynwerkers deur polisiebeamptes doodgeskiet is, bekend gemaak het, het die politieke aasvoëls ook om die kop van genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, begin draai.

Nog voor die bekendmaking het Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, aangedui sy party sal aanhou met die Marikana-kwessie as die verslag nie aanbeveel dat Ramaphosa vervolg word nie.

Hy het ná die bekendmaking getwiet: “Dit is pynlik . . . 34 mense sterf in die openbare oog en niemand is verantwoordelik nie en ons dink Suid-Afrika is ’n nuwe samelewing?”

Lees ook:

EFF troef Thandi Modise in hof oor Marikana-uitlating

Regter: Vervolg Riah Phiyega

Marikana-verslag: Pres. Jacob Zuma moet sê of dit openbaar gemaak mag word

Marikana-verslag ‘binnekort na Jacob Zuma’

Op die Nasionale Vergadering se programkomiteevergadering Donderdagoggend het Ndlozi gevra dat die verslag voorkeur

kry en in die parlement bespreek word as ’n “kwessie van nasionale belang”.

“Die parlement moet dit verwerk. Die politieke elite wat die polisie se besluit beïnvloed het, moet vervolg word,” het hy gesê.

Mmusi Maimane, DA-leier, het dit as die “grootste tragedie in Suid-Afrika se geskiedenis” beskryf en gesê Zuma het dit met “vertraging en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid hanteer”.

“Die DA sal veg om die­gene verantwoordelik vir die slag-ting tot verantwoording te roep, insluitend dié wat hul politieke invloed gebruik het om die staking te beëindig,” het Maimane gesê.

“Die DA sal niks minder nie eis as die ontslag van die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, wat duidelik ongeskik vir haar amp is.”

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, het gesê: “Die bekendmaking van die regterlike kommissie se verslag bring die waarheid oor dié tragiese voorval uiteindelik na vore. Ons vertrou dit sal ons nasie ’n tree nader aan genesing bring.”

Wat die kommissie eintlik sê, is dat Phiyega nie geskik is vir die pos nie.
Dr. Pieter Groenewald, VF+

Die IVP het geëis dat Phiyega en die polisiebeamptes wat regstreeks by die slagting betrokke was onmiddellik geskors word, terwyl die VF+ gesê het sy moet op die daad bedank.

Albert Mncwango, IVP-woordvoerder oor polisie, het gesê daar was duidelik groot taktiese en oordeelsfoute deur Phiyega en ander polisiebeamptes. “Dié oordeelsfoute het tot 44 mense se dood gelei.”

Volgens hom het die IVP nog altyd volgehou dat sy nie geskik vir haar amp is nie.

Mncwango is ook besorg oor die algehele verontskuldiging van die uitvoerende gesag.

“Ons vind dit moeilik om te glo aangesien sommige lede van die uitvoerende gesag duidelik betrokke was by die saak.”

Dr. Pieter Groenewald, VF+-woordvoerder oor polisie, het gesê: “Wat die kommissie eintlik sê, is dat Phiyega nie geskik is vir die pos nie. Pres. Zuma is medeverantwoordelik daarvoor omdat die nasionale kommissaris kragtens die Grondwet deur die president aangestel word.”

Hy het gevra dat Zuma ’n “ervare en kundige” polisie­beampte as kommissaris aanstel.

Oudregter Ian Farlam, wat die kommissie gelei het, het toe hy vroeër die middag om kommentaar genader is, gesê: “Die verslag moet, soos ’n uitspraak, vanself spreek.”

- Jan Gerber en Janet Heard

So berig Beeld op sy voorblad op 18 Augustus 2012.
So berig Beeld op sy voorblad op 17 Augustus 2012.
So berig Beeld op sy voorblad op 14 Augustus 2012.

‘Verander polisie van heel bo af’ – Farlam

Ander senior offisiere sal moeilik die nodigheid sien om apolities te reageer.

Die hermilitarisering van die polisie in die jare 2000 het ook gepaard gegaan met die politisering van dié mag, het die Farlam-kommissie bevind.

Dringende veranderings aan die polisiestruktuur moet “van heel bo af” aangebring word, het die kommissie bevind.

Genl. Riah Phiyega, polisiehoof, en lt.genl. Zukiswa Mbombo, Noordwes se polisiehoof, het hulle luidens die verslag aan “politiekery” en “politieke oorwegings” skuldig gemaak.

Die getuienisleiers het gesê: “Ander senior offisiere sal moeilik die nodigheid sien om apolities te reageer wanneer die voorbeeld deur hul mees senior leiers daargestel presies die teenoorgestelde is.”

Farlam het gesê die aanbevelings in die Nasionale Ontwikkelingsplan oor die demilitarisering van die polisie is ’n “dringende prioriteit”. ’n Paneel moet ingestel word om stappe vir die demilitarisering van die polisie te ondersoek.

Veral die ontplooiing van taktiese eenhede in gevalle van skarebeheer en die gebruik van militêre aanvalsgewere moet bekyk word. Die paneel moet verder “duidelik gedefinieerde rolle en protokol” opstel.

Die kommissie stem saam met die getuienisleiers dat die gebruik van militêre aanvalsgewere in openbare-orde-situasies verbied moet word.

Kundiges het die onmiddellike onttrekking van die R5 aan operasies van die openbare-orde-polisie-eenheid aanbeveel.

Volgens getuienis het die polisie 295 patrone op die tweede skiettoneel afgevuur, terwyl net sowat 14 patrone na die polisie afgevuur is. Dit wys duidelik dit was ’n paramilitêre operasie om die “vyand uit te wis”, het getuies gesê.

- Pauli van Wyk

Marikana-slagting: Jacob Zuma hoef verslag nie nou bekend te maak (twiets)

Pres. Jacob Zuma, wat aanvoer hy kan nie heeltyds aandag gee aan die verslag oor die Marikana-slagting nie omdat hy as staatshoof ’n groot verskeidenheid pligte het, kan moontlik met ’n hofbevel gedwing word om die verslag gou bekend te stel. Die hooggeregshof in Pretoria besluit Maandag of Zuma die verslag onmiddellik, op 30 Junie of êrens tussenin bekend moet maak. Volg hier Netwerk24 se twiets.

‘34 sterf en niemand is verantwoordelik’

Mbuyiseni Ndlozi

Al word adj.pres. Cyril Ramaphosa in die Farlam-kommissie se verslag van alle blaam onthef, moet hy nie verwag dat die stof gaan lê het rondom die e-pos wat hy aan Lonmin gestuur het die dag voor die menseslagting by Marikana nie.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder en LP, het reeds voordat pres. Jacob Zuma Donderdagaand die verslag bekendgemaak het, aangedui die EFF sal voortgaan om die Marikana-kwessie te dryf as die verslag nie aanbeveel dat Ramaphosa vervolg word nie.

Hy kon nie onmiddellik ná die bekendmaking van die verslag vir kommentaar bereik word nie.

Hy het wel getwiet: “Dit is pynlik . . . 34 mense sterf reg voor die publiek en niemand is verantwoordelik nie en ons dink Suid-Afrika is ’n nuwe samelewing? Iemand moes vir Suid-Afrika gesê het om nooit geregtigheid van kommissieverslae te verwag nie: Ons moes aan die begin vir vervolging gevra het.”

Lees verder.

‘Riah Phiyega sal kommissie van ondersoek nie oorleef’

Nathi Mthethwa, destydse minister van polisie, en genl. Riah Piyega, polisiehoof. Foto: Herman Verwey

Gareth Newham, oudpolisielid en ontleder by die Instituut vir Sekerheidstudies, het gesê Phiyega sal na alle waarskynlikheid nie die kommissie van ondersoek oorleef nie.

“Ek dink nie sy sal ’n kommissie van ondersoek oorleef nie. Ek baseer dit op die getuienis en bewyse voor die kommissie. Sy het ook onder eed voor die kommissie gelieg. Sy is streng daarvoor gekritiseer. Die bevindinge van die kommissie teen Phiyega is verdoemend.

Lees verder.

Regstreekse Marikana-blog: Aantygings teen Ramaphosa ongegrond; ondersoek teen Phiyega kom

Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand die langverwagte verslag oor die Marikana-slagting bekendgemaak. Leanne George het ’n regstreekse blog bygehou.

19:39 

Die verslag is glo oor die 600 bladsye. Geen wonder dit het Zuma so lank geneem om dit bekend te maak nie. (Gelukkig beveel die kommissie slegs aan hy moet op die hoogte gehou word van die mate waarin die aanbevelings in werking gestel word en nie dat hy enigiets moet betaal nie.)

Fluit fluit, ons storie is uit.

Lees verder.

Dís hoekom Ramaphosa nie skuld vir Marikana-slagting kry

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa kan nie as die oorsaak van die Marikana-slagting beskou word nie, het die Farlam-kommissie bevind.

Ramaphosa, nou die adjunkpresident, was in Augustus 2012 ’n nie-uitvoerende direkteur van Lonmin.

Hy het tydens die slagting, waarin 34 Marikana-mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is, sy politieke invloed gebruik om kontak met Nathi Mthethwa, destydse minister van polisie, en Susan Shabangu, voormalige minister van minerale bronne, te skakel.

Ramaphosa is daarna daarvan beskuldig dat sy dringende oproepe wat hy na Mthethwa gemaak het om die situasie te beredder, die sneller was vir die polisiegeweld.

Maar die kommissie het bevind dat daar “geen rede is om te glo dat die polisie anders sou optree as Ramaphosa Mthethwa nié gekontak het nie”.

Ramaphosa se getuienis voor die kommissie was dat sy belang daarby was om ’n situasie te keer waar “meer en meer mense doodgemaak sou word”.

“Daar is niks wat hy gesê of gedoen het wat die teendeel bewys nie,” het die getuienisleiers aangevoer.

“Dit blyk dus dat Ramaphosa se ingryping met die minister nie onvanpas of ontoelaatbaar was nie.”