Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meeste Suid-Afrikaners het ál minder vertroue in strafstelsel
​Die opname toon onder meer:

■ Meer as ’n driekwart van dié huishoudings meen oortreders wat in die howe skuldig bevind word, word nie tronk toe gestuur nie;

■ Mense wat nie in stede woon nie, is minder tevrede met die polisie;

■ Diegene met ’n hoë lewenstandaard het meer vertroue in die howe;

■ Huishoudings in Noordwes het nie veel vertroue in die polisie en howe nie;

■ Gautengers en Wes-Kapenaars is minder tevrede met die howe;

■ Huishoudings in landelike gebiede in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Vrystaat is in ’n groter mate tevrede met die polisie.

Die meeste Suid-Afrikaners is in ’n mate tevrede met die polisie en howe, maar dink korrektiewe dienste skiet tekort.

’n Nuwe studie deur Statistieke Suid-Afrika (SSA), in die opname onder misdaadslagoffers (2013-’14), toon mense se vertroue in die strafregstelsel het in die algemeen sedert 2011 afgeneem.

Die opname toon 64,3% huishoudings ervaar die howe en 50,2% die polisie in ’n positiewe lig, terwyl 59,2% nie veel van die korrektiewe dienste dink nie.

Dié syfers is nie goed nie en is te wyte aan ’n gefragmenteerde strafregstelsel, het Pali Lehohla, statistikus-generaal van SSA, Dinsdag tydens ’n mediakonferensie gesê.

“Die doel van die opname was om te sien hoe tevrede die publiek met die polisie, justisie en howe is, sodat ons beleid daarvolgens kan formuleer,” het Lehohla gesê.

Hy het gesê die verhouding tussen die polisie, justisie en korrektiewe dienste is onder druk – en dié verhouding speel ’n groot rol in die effektiwiteit van die stryd teen misdaad.

Publieke opinie is ’n belangrike instrument om die gehalte van dienslewering in die strafregstelsel te meet en dié kennis kan die stelsel help verbeter, het Lehohla gesê.

Gevra waarom tevredenheid met die strafregstelsel sedert 2011 afgeneem het, het Lehohla gesê dié vraag is nie spesifiek gevra aan die huishoudings wat aan die opname deelgeneem het nie.

“Ons kan in die toekoms faktore soos die toestand van die ekonomie in ag neem, of die rol wat die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010 gespeel het om ons te laat goed voel.”

SSA en die polisie het die opname onder 30 000 huishoudings gedoen. Dié huishoudings is onder meer gevra hoe hulle die strafregstelsel ervaar, hoe veilig hulle voel, hoe vinnig die polisie in krisisse reageer en hoe sigbaar die polisie is.

Die doel van die opname was om te sien hoe tevrede die publiek met die polisie, justisie en howe is, sodat ons beleid daarvolgens kan formuleer.
Pali Lehohla
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.