Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meyiwa: Man vry oor min bewyse
Net 2 kon verdagte uitken op parade
’n Klein groep Senzo Meyiwa-ondersteuners sing en dans gister buite die Boksburg-hof. Die aanklagte teen ’n man wat van die moord op hom aangekla is, is daar teruggetrek. Foto: Felix Dlangamandla

Die 25-jarige verdagte van Vosloorus wat weens die moord op die Bafana ­Bafana-kaptein Senzo Meyiwa aangekeer is, het gister weens ’n tekort aan bewyse as ’n vry man uit die Boksburg-landdroshof gestap.

Zamakuhle Innocence Mbatha (25) is uit aanhouding vrygelaat en alle aanklagte teen hom is voorlopig teruggetrek.

Hy was tydens die hofverrigtinge nie self in die hof nie.

Buite die hof het familielede van Mbatha mekaar huilend omhels.

Adv. Gertrude Market, vir die staat, het gesê weens ’n gebrekkige uitkenningsparade en nuwe inligting kan Mbatha nie aangekla word nie.

Landdros Daniel Thulare het gesê wanneer feite in twyfel getrek word, moet die saak teen die beskuldigde teruggetrek word.

Thulare het gesê die werk van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is om mense te vervolg en nie te straf nie.

“Daarom moet ons die regstelsel se prosesse respekteer en vertrou.

“Ek weet Suid-Afrikaners gaan woedend oor die besluit wees. Maar mense moet op feite aangekla word.”

Nathi Mncube van die NVG het buite die hof gesê die inligting in die dossier en dié van die uitkenningsparade stem nie ooreen nie.

“Toe Meyiwa doodgeskiet is, was daar sewe mense in die huis. Slegs twee mense kon Mbatha in die uitkenningsparade uitwys.

“Daar is te veel gate in die bewyse teen Mbatha.

“Toe ons aanvanklik die dossier ontvang het, het ons gedink daar is genoeg bewyse om die man aan te kla.

“Ná sy eerste hofverskyning het ons besef groot dele van die inligting maak nie sin nie,” het Mncube gesê.

Mncube het gesê die polisie is nog besig met hul ondersoek en die NVG wag op nuwe feite.

“Indien die polisie nuwe feite bring, kan Mbatha weer aangekla word,” het hy gesê.

’n Familielid het buite die hof gesê die polisie het ’n onskuldige man toegesluit.

“Ons het hulle die hele tyd gesê dit was nie hy nie. Niks verbind hom met die misdaad nie. Ons is bly hy kan huis toe kom.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.