Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Moordenaar’ staan uit dood op
Hy laat dit lyk asof hy destyds gesterf het ná ontsnapping, maar nou kan hy aan pen ry
Samantha Bennett (10) word getroos op die begrafnis van haar pa, Lee (46), in 1995. Foto: Beeld

Ná amper 20 jaar kan ’n vermeende moordenaar, wat met verstommende slenters homself as ’t ware van die aardbol af laat verdwyn het, uiteindelik aan die pen ry.

Samantha Bennett was ’n blonde sproetgesiggie en skaars tien jaar oud toe sy in 1995 ’n man aan speurder Piet Byleveld uitgewys het nadat haar pa, Lee (46), koelbloedig langs haarin ’n beweerde kapingspoging doodgeskiet is.

Sy het sonder aarseling gewys na Martin Ngema (toe 23) as die een wat Lee op 21 November 1995 voor hul huis in Shandonweg, Parkmore, Johannesburg, in die kop geskiet het.

Martin Ngema, toe 23 jaar oud. Hy is nou 41.
Die vervalste doodsertifikaat

Ngema se vingerafdrukke is ook gekry in die rooi Volkswagen Golf waarmee hy en sy twee vermeende medepligtiges, Johannes Matli en Nhlanhla Madia, ná die voorval gevlug het. Anders as sy vermeende makkers is Ngema borgtog geweier.

Maar kort voor die verhoor in 1997 het Ngema vermoedelik met die hulp van ’n polisieman en die vervalste handtekening van ’n landdros “op borgtog” uit die tronk ontsnap.

Daarna het hy sy eie doodsertifikaat vervals en sy identiteit met ’n klein aanpassing in sy identiteitsnommer by die departement van binnelandse sake verander. “Wyle” Martin Nkosenye Ngema het toe Alfred Sibusiso Ngema geword.

Maar in November 2013 het Ngema se verlede hom ingehaal toe die polisie hom op ’n klag van roekelose en nalatige bestuur aangekeer het.

Toe sy vingerafdrukke geneem word, is besef hý is die vermeende moordenaar van Lee Bennett.

Ngema, wat die afgelope week in die Johannesburgse hooggeregshof verskyn het, is vasgetrek omdat dit nooit op die polisie se stelsel verander is dat hy “dood” is nie. Sy verstommende “nuwe” lewe het toe aan die lig gekom.

Hy het homself deur die jare in Vryheid in KwaZulu-Natal as verkoopsman by ’n motorhandelaar bekwaam en is ’n paar keer as verkoopsman van die jaar aangewys. Hy is ’n direkteur van die maatskappy Indlela Yomnotho Trading and Projects, wat die eThekwini-munisipaliteit onder sy kliënte lys.

Hy het ook verskeie eiendomme in die dorp gekoop.

Ngema se bestuurder het verbete vir hom geskerm nadat die polisie hom in hegtenis geneem het.

“Ek het vir hulle gesê dit kan nie wees nie. Nie Alfred nie. Hy is ’n great, openhartige ou,” het dié bestuurder aan Rapport gesê.

Dit is ondenkbaar vir die bestuurder dat Ngema een van die drie was wat die pa en dogter destyds aangeval het.

Hulle het pas van Samantha se gimnastiekklas af in hul blou Nissan Sani 4X4-bakkie stilgehou toe die mans na bewering toegeslaan het.

Samantha Bennett en haar grootste ondersteuner en pa, Lee, destyds.
Lee Bennett voor sy dood op 21 November 1995. Foto: Verskaf
Die Nissan Sani-bakkie waarin Lee Bennett doodgeskiet is. Foto: Beeld
Bennett (29), haar ma, Sally, en broer, Richard, woon vandag steeds in Engeland.
Samantha Bennett (29) en haar ma, Sally bly vandag steeds in die Verenigde Koninkryk ná die moord op hul man en pa, Lee Jeremy Bennett (46) in Sandton, Johannesburg in 1995.
Samantha Bennett (29), haar ma, Sally en broer Richard bly vandag steeds in die Verenigde Koninkryk ná die moord op hul man en pa, Lee Jeremy Bennett (46) in Sandton, Johannesburg in 1995.

Beeld het destyds berig Samantha is in daardie stadium as een van die land se belowendste gimnaste beskou. Sy het gevorderde intensiewe afrigting ontvang met die oog op die Olimpiese Spele.

Sally Bennett, Samantha se ma, en haar broer, Richard (toe 13), het uitgehardloop toe hulle skote hoor.

’n Verbygaande motoris het by die erg getraumatiseerde gesin stilgehou en Lee Bennett in sy (die motoris se) motor na die Morningside-kliniek gebring waar Bennett gestabiliseer is.

Hy is egter kort ná sy oorplasing per helikopter in die Sandton-kliniek breindood verklaar.

Die Bennett-gesin het in 1996 na Engeland geëmigreer.

Samantha, nou 29 jaar oud, en haar ma woon in Londen.

Hulle was reeds landuit toe hulle van Ngema se ontsnapping gehoor het, én dat hy op 28 Julie 1999 aan natuurlike oorsake “dood” is. Matli en Madia is ná die ontsnapping vrygelaat omdat die staat nie sonder Ngema met vervolging kon voortgaan nie.

Adv. Nerissa Muller, vir die staat, wat nou saam met die ondersoekbeampte ao. Odi Odendaal van die Sandton-speurtak werk, sê dit gaan ’n moeilike taak wees om Ngema ná al die jare aan te kla. Matli en Madia kan nie opgespoor word nie.

Die grootste uitdaging nou is om Samantha te oorreed om na Suid-Afrika terug te keer om teen haar pa se vermeende moordenaar te getuig.

Byleveld, wat toe nog by die Brixton-polisie se moord-en-roofeenheid was en as onafhanklike polisieman die uitkenningsparade gehou het, sê hy onthou dié opspraakwekkende saak soos gister. Hy sal in Mei 2015 in die verhoor getuig.

Byleveld sê dit is uiters belangrik vir die staat se saak dat Samantha moet kom getuig.

“Ek is bereid om op ’n vliegtuig te klim en haar te gaan sien. Sy moet net eenvoudig kom. Sy móét net – vir geregtigheid om te geskied . . .” 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.