Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Padvalke slaan toe op meisie se partytjie (video)
Help,hulle arresteer my pappa!

“Pappa, Pappa!” het ’n sewejarige meisie van Pretoria huilend geskreeu terwyl die Tshwane-metropolisie haar pa by haar suster se verjaardagpartytjie in ’n parkie gearresteer het.

Dít omdat ’n chihuahua in Zitapark, Garsfontein, ingebring is. Die arrestasie was ondanks die feit dat die park honde toelaat, luidens kennisgewingborde by die park.

Chris de Lange moes Saterdag sy dogter, Marcelle (7), deur die vangwa se tralies troos. “Moenie worrie nie, Pappa gaan nou daar wees. Gaan saam met Mamma (Sonja),” het hy haar gekalmeer.

Megan de Lange (10) en haar pa, Chris. Foto: Theana Breugem
Die metropolisielede vat vir Chris de Lange na die vangwa toe.
“You don’t have that f*** right to take a photo,” sê ’n metropolisiebeampte.
David du Plessis, wat die voorval verfilm het, word gearresteer.

Familie en vriende het Megan (10) (die verjaardagmeisie) by hulle gehou.

De Lange (36) moes later hoor hy is eintlik weens drankmisbruik gearresteer en later dat hy ook weens crimen injuria gearresteer is. “Ek drink nie eens nie en ’n mens mag nie drank in die parkie invat nie. Ons is deurgesoek voordat ons ingegaan het,” het hy gesê.

Toe hy die metropolisie vra om ’n bloedtoets te laat doen, het hulle glo geweier.

Megan se verjaardagpartytjie is Saterdag by Zitapark saam met 14 ander maatjies gevier. Dit het 10:00 begin.

“Sy wou ’n swempartytjie gehad het,” het De Lange gesê.

“ ’n Sekuriteitsvrou het vir ons kom sê die hond wat een van my vriendinne aangebring het, mag nie in die parkie nie.

“Sy (die veiligheidswag) het voorgestel dat ons die hond in die motor gaan sit.”

Volgens De Lange het hy aan haar verduidelik dat die hond aan ’n leiband vas is, soos die bord by die parkie aandui.

“Sy het toe iemand gebel.”

Kort daarna het die metro­polisie opgedaag.

“Ek het verduidelik wat aangaan, maar hulle het aangehou om hul vingers in my gesig te swaai en kru taal te gebruik.”

Die gesprek tussen De Lange en die metropolisielede het vurig geraak. Hy het omgedraai en geloop.

Die Zitapark-bord vir besoekers wat onder andere aandui dat honde toegelaat word. Die foto is deur David de Lange se vrou. Sonja, geneem net nadat haar man en ’n ooggeteuie gearresteer is.
’n Teken dat honde toegelaat word in Zitapark is ná die voorval met rooi kleefband toegeplak.

“Hey boy, f*** you, come here,” het ’n metropolisielid glo geskreeu, waarop De Lange glo geantwoord het: “I’m not your f*** boy.” Dis toe dat hy gearresteer is.

’n Getuie, David du Plessis, wat die arrestasie met sy selfoon afgeneem het, is “aangerand”, gevloek en ook gearresteer weens verhindering van ’n polisiebeampte in die uitvoer van sy pligte en verset teen arrestasie.

“You don’t have that f*** right to take a photo,” het ’n beampte aan hom gesê.

Dié twee het agt uur in die tronk deurgebring, is toe laat gaan en gewaarsku om Maandag in die hof te verskyn. Hier is die klagte teen hulle van die rol geskrap.

“Iemand by die hof wat voor ons sou verskyn, het vir ons kom sê dat die saak uitgegooi is, want dit is ‘belaglik’.”

Rooi kleefband is kort ná die voorval oor die bord geplak wat aandui dat honde toegelaat word.

’n Klag is by die Garsfontein-polisie en by die metropolisie teen die lede ingedien.

Sr.supt. Isaac Mahamba, metropolisiewoordvoerder, het ’n ondersoek belowe. “Die metropolisielede se vulgêre taal op die video (wat David geneem het) kwel ons.”

“Pappa, Pappa” skreeu klein Marcelle (7) terwyl die metropolisielede haar pa na ’n vangwa vat.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.