Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanval? Nee, sy het sélf gemoor
Boervrou wou nie skei en net helfte kry, sy wou áls hê
Petro Swanepoel (42)
Petro en haar tweede man, Billy.

‘Sy het gesê sy het dit nie gedoen nie. Sy was te lief vir Johan om hom ooit dood te maak. Maar haar liefde was vir haarself.”

Só het die suster van Petro (Taljaard) Swanepoel gesê nadat sy die afgelope week in die hooggeregshof in Mahikeng, Noordwes, tot 18 jaar tronkstraf gevonnis is weens die moord op haar man, Johan Taljaard (33), in 2003.

Swanepoel (42) het al die jare beweer “minstens twee aanvallers” het haar man langs haar in hul bed doodgeskiet.

Maar ballistiese kenners se getuienis sou later daarop dui dat sy self die sneller getrek het.

Vier keer.

Die suster, wat verkies om anoniem te bly, het aan Rapport gesê sy het Swanepoel, die jongste van vier susters, 11 jaar laas gesien.

Sy het Swanepoel altyd verdink toe Taljaard in ’n “plaasaanval” op die plaas Rietpan in Delareyville doodgeskiet is.

Net twee maande ná haar man se dood het sy met ’n ander man aan haar sy by hul pa se begrafnis opgedaag.

Swanepoel is later met dié man, Billy Swanepoel, wat sy lank voor haar man se dood geken het, getroud. Sy het alles geërf en saam met hom in Middelburg, Mpumalanga, gaan woon.

Beeld het destyds berig Petro (toe 30) en Johan Taljaard is op Saterdag 12 April 2003 deur minstens twee mans omstreeks 22:30 in hul slaapkamer oorval.

Die berig in Beeld in 2003 waarin ’n polisiewoordvoerder Petro Swanepoel se leuenagtige weergawe oordra.
Die vermoorde boer Johan taljaard (33) van die plaas Rietpan, Delareyville, Noordwes, was ‘n toegewyde boer.

In dié berig is Petro Taljaard se leuenagtige weergawe van die gebeure oorgedra.

Sy het beweer sy het wakkergeskrik nadat die mans ’n venster gebreek het om toegang tot die huis te verkry. Die aanvallers het haar uit die bed geruk en ’n mes teen haar keel gedruk. Hulle wou die kluis se sleutels hê, het sy gesê.

Hulle het na haar gesteek toe sy laat blyk het sy weet nie waar die sleutels is nie, maar sy is nie getref nie. Sy het slegs ligte kneuswonde aan haar gesig en bolyf opgedoen.

Volgens haar is Johan in ’n struweling “met die ander man” noodlottig gewond toe die rower sy vrou se vuurwapen onder sy kussing gekry het. Hy is vier keer getref en is op die toneel dood.

Die rowers het volgens Petro Taljaard te voet gevlug met die rewolwer en kontant wat hulle uit haar beursie geneem het, lui die Beeld-berig.

Lede van die moord-en-roofeenheid in Klerksdorp het die “plaasmoord” ondersoek. Hulle het gevra dat enigiemand met inligting die bevelvoerder moet kontak. Maar geen inligting is ontvang nie en die moordwapen is nooit gekry nie. Die saak het doodgeloop.

“Tot 2009,” sê adv. Hannes van Niekerk, wat die aanklaer adv. Johan Smit SC in die verhoor bygestaan het.

“Daar is klagtes oor die onopgeloste saak ontvang en die dossier is weer aangevra.”

Daarin was foto’s van die voormalige mev. Taljaard se beserings. Forensiese spesialiste het ná al die jare vasgestel sy het die beserings aan onder meer haar arm, bors en skouers self toegedien. Sy het haarself met ’n skerp voorwerp gekrap.

“Ons het toe weer mooi na alles gaan kyk,” sê Van Niekerk. “Dit was vreemd dat sy ’n bie­tjie lank gevat het om die polisie te bel en dat die sogenaamde rowers haar vuurwapen onder sý kopkussing gekry het.”

Smit is in 2013 as aanklaer aangewys. Die hele ondersoek moes van voor begin en dit het die verhoor vertraag.

Maar toe die verhoor eindelik begin, het die boervrou gou besef sy is vas.

“Die vierde dag was dit duidelik die getuienis teen haar is oorweldigend. Sy het net daar haar pleit van onskuldig na skuldig verander,” sê hy.

Die vermoorde Johan Taljaard
Dit was vreemd dat die sogenaamde rowers haar vuurwapen onder sy kopkussing gekry het . . .

Kapt. Hennie Kriel, die ondersoekbeampte, sê Swanepoel het haarself verstrengel in haar weergawe van die gebeure. Sy was baie ontwykend.

“Sy kon nooit met sekerheid sê hoeveel aanvallers daar was nie.”

Kriel meen hoewel Swanepoel, wat op aanklag van moord met voorbedagte rade skuldig bevind is, in ander omstandighede lewenslank gevonnis sou word, is hy tevrede met die vonnis. Ná al die jare was dit wys om ’n pleit-en-vonnisooreenkoms aan te gaan.

Die moordenaar is eindelik agter tralies.

Die tergende vraag wat bly hang is hoekom?

“Ek dink dit was oor geld, ander mans,” sê die suster.

Taljaard het met beeste, sonneblomme en mielies geboer.

Johan was hardwerkend en het saans ná sonsondergang eers by die huis aangekom.

“Hy het dan gaan stort en is kamer toe. Hy het nooit op verlof gegaan of vakansie geneem nie.”

Sy vertel Johan het altyd gelag. “So uit sy bors uit.

“Johan was ’n man na elke vrou se hart. Hy het Petro op die hande gedra.

“Hy het een verjaardag R100 000 aan haar as geskenk gegee. Sy het alles gekry wat haar hart begeer.

“Een van die mans met wie sy voor Billy ’n verhouding gehad het, het haar gevra hoekom skei sy nie net as sy so ongelukkig is nie.

“Sy het gesê hoekom die helfte vat as sy alles kan kry?”

Maar die grootste verlies is vir die kinders, sê sy.

“Sy het hulle ontneem van ’n wonderlike pa.”

Die twee kinders, nou tieners, is in die sorg van hul stiefpa wat hulle grootgemaak het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.