Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisieman vasgetrek ná aanval op bejaarde boer
Peet Nortjé (67) nadat hy deur rowers op sy plaas getakel is.

 'n Polisieman van Madibogo in Noordwes is een van twee verdagtes wat Woensdag gearresteer is ná 'n aanval op 'n bejaarde boer naby Coligny.

Drie rowers het Peet Nortjé (67) laatmiddag oorval toe hy van die mielielande op sy plaas Kareebosbult by die huis aangekom het. Volgens sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder in Noordwes, het die rowers eers twee van die plaaswerkers in ’n kantoor naby die huis vasgebind.

Hulle het Nortjé toe in die huis met drade (vermoedelik van klerehangers) vasgebind. Hulle het hom geskop en geslaan en wapens en geld uit die kluis gesteel. “Die draad het sy een arm gesny en hy moes steke kry,” sê ’n kennis van hom wat nie geïdentifiseer wil word nie.

Nortjé het die kennis gebel nadat die rowers in ’n wit Golf weggery het. Volgens Moleko het die polisie in Coligny die taktiese reaksie-eenheid gevra om op die uitkyk te wees vir die motor. Dis naby Potchefstroom opgespoor en die twee verdagtes is gearresteer. “Wapens is ook by hulle gekry,” sê Moleko.

Sy het bevestig een van die gearresteerders is ’n polisieman. Hy en sy vermeende makker word in Potchefstroom aangehou.

Piet Pretorius, wat saam met Nortjé in hul kerk se kerkraad in Coligny dien, sê hy woon alleen op die plaas sowat 25 km van Coligny sedert sy vrou, Ingrid, oorlede is. “Hy het ook twee seuns gehad wat jonk dood is. Hy is oraait, maar hy is getraumatiseer.”

Moleko sê Nortjé was Woensdagmiddag nog te geskok om 'n volledige verklaring af te lê.

 

 

Hy is oraait, maar hy is getraumatiseer.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.