Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisiewaghond gaan 2 lede bekyk wat glo dreig

Die twee Douglasdale-polisielede wat op video vasgevang is waar hulle dreig om ’n man se been te breek, is Woensdag op administratiewe verlof geplaas.

Teen Donderdagaand is die video al meer as 300 000 keer op YouTube gekyk.

Dit is Dinsdag opgelaai.

In die video is daar ’n konfrontasie tussen die twee beamptes en twee mans, wat die skuilname Anton en Shane gebruik, met ’n polisievoertuig op die agtergrond.

Anton en Shane sê hulle was op 18 Augustus omstreeks 03:30 op pad huis toe, toe die twee beamptes hul motor gestop het.

Anton het glo nie vinnig genoeg na die beamptes se sin uitgeklim nie en een het gedreig om sy been te breek.

Shane het die video ongesiens met sy selfoon geneem.

Volgens die Douglasdale-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en eBlockwatch is “polisiewreedheid” al jare ’n probleem in die Douglasdale-omgewing, maar nou het hulle genoeg gehad.

Kol. Katlego Mogale, Gautengse polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die saak is na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) vir ondersoek verwys.

“ ’n Interne ondersoek is ook begin om die betrokke beamptes te tug.

“Hulle is nog nie geskors nie, want behoorlike prosesse moet gevolg word,” het sy gesê.

Mogale het gesê geen vorm van wangedrag deur beamptes sal geduld word nie.

Adv. Jean Berdou, voorsitter van die GPF, het Donderdag aan Beeld gesê hulle het daarop aangedring dat die saak deur Opod ondersoek word, want “beamptes kan nie mekaar ondersoek nie”.

“Hulle het geen regverdiging vir hul optrede nie. Die beamptes het die gemeenskap se vertroue in hulle geknak en dit is ’n skande.”

Hy het gesê daar is begrip vir die gemeenskap se woede, “maar ons wil vra dat mense kalm bly”. Hy het gesê hulle wag in spanning op die besluit van die provinsiale polisie oor of die beamptes geskors word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.