Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Radiografis voor oor kaalfoto’s van 9-jarige seun

’n Johannesburgse radiografis wat ’n negejarige seun glo per WhatsApp vir kaalfoto’s van homself gevra het, is Donderdag op borgtog vrygelaat.

Die 41-jarige man, wat ook die direkteur van ’n maatskappy is wat radiografiedienste aan ’n Sandtonse hospitaal verskaf, is Donderdag vroeg op aanklagte van kinderpornografie in hegtenis geneem.

Hy is kort voor middagete in die Randburg-landdroshof op streng voorwaardes op borgtog van R10 000 vrygelaat.

’n Man met wie hy na verneem word in ’n verhouding is, was by die hof om hom te ondersteun.

Landdros Vincent Pienaar het gelas die beskuldigde mag die klaer of sy ouers nie direk of indirek kontak nie.

Hy moes sy paspoort indien en moet elke Sondag by die Sandton-polisiekantoor aanmeld.

Beeld het vertroulik verneem die 11-jarige slagoffer, die seun van ’n tandarts in Benoni, was nege jaar oud ten tyde van die beweerde misdaad. Die kind het glo in 2013 toevallig oor BBM ’n generiese uitnodiging vir die beskuldigde gestuur om ’n BBM-kontak te word. Dit was blykbaar ’n speletjie onder kinders om soveel as moontlik kontakte op BBM te hê.

Die beskuldigde het hom na bewering as ’n 20-jarige dokter aan die kind voorgedoen. Hulle het tussen 2013 en 2014 met mekaar op BBM en WhatsApp gesels. Die beskuldigde het na bewering oor dié tydperk sy aanvoorwerk gedoen om die kind so ver te kry om kaalfoto’s van sy geslagsdele vir hom te stuur. Die beskuldigde het na bewering ook eksplisiete foto’s van homself vir die kind gestuur.

Na verneem word, het die misdade op die lappe gekom toe die kind sy selfoon by die huis vergeet het toe hy skool toe is. Sy stiefma het op die foto’s afgekom, waarna sy woedende ouers die polisie in kennis gestel het.

Die radiografis se naam en adres is toe deur middel van sy selfoonnommer opgespoor.

Die kind het die beskuldigde na bewering nog nooit in lewende lywe ontmoet nie.

Die hofverrigtinge is tot 24 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

Die beskuldigde het hom na bewering as ’n 20-jarige dokter aan die kind voorgedoen.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.