Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sandra Prinsloo ontsteld oor webslenter
Sandra Prinsloo is hoogs ontsteld omdat haar foto en naam gebruik word om skoonheidsprodukte te bemark wat sy nie gebruik nie. ’n Facebook-blad deel skakels op dié sosiale media blad en beweer Prinsloo het al haar "skoonheidsgeheime" ver

Die aktrise Sandra Prinsloo is hewig ontsteld oor ’n webwerf en Facebook-blad wat haar naam en foto’s gebruik as ’n advertensie vir produkte waarmee sy niks te doen het nie.

Prinsloo het die afgelope week gehoor haar gesig duik dikwels op sosiale media op met ’n skakel na ’n artikel wat op dailygossiphub.com verskyn.

Luidens die artikel gebruik Prinsloo CoverGirl-grimering, asook Restora Lumina en

Levante Instant Lifting-room.

“Dit is ’n absolute onwaarheid,” het ’n ontstelde Prinsloo gesê.

“Ek het ook al met die akteursunie gepraat oor moont­like stappe, maar dit lyk asof ’n mens die mense nie kan opspoor nie. ’n Mens gaan IT-kenners moet kry om hulle op te spoor.

“Dit is regtig absolute rubbish. Ek het nog nooit hul produkte gebruik nie.

“Daar is juis iemand anders wat my borg.”

Uit die skakels wat op Facebook gedeel word, wil dit voorkom asof die artikel in die streekkoerant Laevelder verskyn het.

Volgens Prinsloo is die oorspronklike artikel in dié koerant ’n onderhoud wat sy op die Innibos-fees met die resensent Paul Boekkooi gedoen het.

“Dit het niks met skoonheidsgeheime te doen gehad nie. So, eintlik word sy naam ook misbruik,” het Prinsloo gesê.

’n Ander skakel verwys na ’n artikel op Netwerk24.

Wanneer ’n mens op die skakels klik, maak die Daily Gossip Hub-webwerf oop.

Sommige van die skakels is foutief.

Luidens die artikel op die webwerf gebruik die klets­koningin Oprah Winfrey ook die produkte en het Prinsloo juis met Winfrey ’n onderhoud daaroor gevoer.

“Ek wonder of Oprah weet ek het ’n onderhoud met haar gedoen?”

Volgens Prinsloo borg Cosmetique 2000 haar al 24 jaar lank.

Marie Pretorius, eienaar van dié onderneming, is net so ontsteld.

Pretorius het gesê sy is raadop omdat hulle nie kontakbesonderhede vir die stigters van die webwerwe kan opspoor nie.

“Wat moet ons as ’n klein onderneming doen om sulke mense aan te vat?”

Hoewel Restora Lumina die velprodukte op hul eie webwerf (restoraluminas.com) beskikbaar stel om te bestel, is daar geen kontakbesonderhede op die webwerf beskikbaar nie.

Baie mense het ook al op die dienswebwerf hellopeter.com gekla oor produkte wat nooit by hulle uitgekom het nie en geld wat nooit terugbetaal is nie.

Carey van Vlaanderen, uitvoerende hoof van die internetsekerheidsmaatskappy Eset, het gesê: “Die beste ding is om die blad so gou moontlik by Facebook se bestuur aan te meld.”

Sy meen mense moet versigtig wees om produkte te koop op webwerwe wat nie kontakbesonderhede beskikbaar het nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.