Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Senzo het sy skieter geken’
¦ Het mense in huis gelieg? ¦ Polisie twyfel nou of daar ooit ’n gewapende rooftog was
Kelly Khumalo, Meyiwa se minnares.

Speurders wat die moord van die Bafana-kaptein Senzo Meyiwa ondersoek, rig nou hul visier op die mense wat die Sondagaand in die huis was waar hy vermoor is.

Drie speurders na aan die ondersoek het aan Rapport gesê hulle vermoed een van dié mense kan Meyiwa se moordenaar wees.

Die ondersoek is volgens hulle nou gefokus op een van die ooggetuies wie se gelisensieerde vuurwapen pas vir forensiese toetse gestuur is.

“Ek kan die versekering gee dat iemand wat die aand daar was, binnekort vir ondervraging ingeneem gaan word én moontlik daarna in hegtenis geneem sal word,” sê een van die speurders.

Brig. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, wil nie hieroor kommentaar lewer nie.

“Al wat ons gaan sê, is dat die ondersoek voortgaan en niemand nog in hegtenis geneem is nie.”

Maar Rapport verneem die polisie twyfel nou of daar ooit ’n gewapende rooftog was by die huis van Ntombi Khumalo, ma van Kelly Khumalo, Meyiwa se minnares. Meyiwa het saam met vriende daar gekuier.

Volgens die ooggetuies het twee mans, van wie een gewapen was, omtrent 20:00 die aand die huis in Vosloorus aan die Oos-Rand binnegedring.

In ’n struweling sou een van die rowers ’n skoot afgevuur het wat Meyiwa in die bors getref het.

Drie mans – twee in Musina, Limpopo, en Zamakhuhle Mbatha van Vosloorus – is ná ’n intensiewe soektog in hegtenis geneem. Die twee wat in Musina aangekeer is, is kort daarna vrygelaat.

Mbatha, ’n karwasser in Khumalo se buurt, het in die hof verskyn, maar alle aanklagte teen hom is teruggetrek.

Die polisie twyfel nou oor die verklarings wat afgelê is deur van die mense wat teenwoordig was.

Daar was sewe volwassenes in die huis: Meyiwa, Kelly, haar ma, haar suster Zandi, Zandi se kêrel, Longwe Twala, Tumelo Madlala (’n vriend van Meyiwa uit sy kinderdae) en nóg ’n vriend, wat slegs bekend staan as Mthoko.

Senzo Meyiwa
Hy sukkel glo om saans te slaap omdat hy gelieg het.

Kelly se seun, Christian (4), was ook in die huis, sowel as haar en Meyiwa se baba, Tingo, wat geslaap het.

Daar is aan die polisie gesê die twee rowers het die huis binnegekom net toe Meyiwa en van die ander op pad uit was. Kelly en Zandi het glo na verskillende slaapkamers gehardloop, terwyl die ander in die sitkamer agtergebly het.

Die polisie het agterdogtig geraak nadat hulle deur intelligensiebronne ingelig is een van die ooggetuies het vertroulik aan “sommige mense” beken hy is voorgesê wat om in sy verklaring te sê.

Die speurders beweer dié man is aangesê om die verklarings van ander ooggetuies te staaf dat Meyiwa deur ’n rower geskiet is, terwyl dit nié die geval was nie.

“Hy wil praat en die ondersoekbeamptes hoop om sy nuwe verklaring nog hierdie naweek te kry,” sê ’n speurder.

“Hy sukkel glo om saans te slaap omdat hy gelieg het.”

Die ondersoekbeamptes wys beduidende teenstrydighede in die verklarings van die ander ooggetuies uit.

Daar is lont geruik nadat die polisie ’n tydsverloop van die gebeure saamgestel het en ook ’n verklaring bestudeer het van een van die bure.

Een van die speurders sê dié leidrade sal deeglik getoets word voordat daar weer mense in hegtenis geneem word.

Die polisie is onder groot druk, veral nadat Meyiwa se familie ’n span van tien private speurders aangestel het om die moord op te los.

■ Oproepe en SMS’e na Kelly Khumalo is nie gister beantwoord nie. Madlala kon nie vir kommentaar bereik word nie omdat sy selfoon afgeskakel was en hy het ook nie op teksboodskappe gereageer nie.

Twala se pa, Chicco, wat optree as woordvoerder van die Khumalo-familie en sy seun, het nie op oproepe en SMS-vrae gereageer nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.