Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Siek hondjies vir duisende verkoop
76 schnauzers by teelplaas gered
Van die schnauzer-honde wat van ’n plaas by Ermelo gered is. Foto: Kritzography

Altesame 76 schnauzer-honde, waarvan die meeste ’n dodelike virus onder lede het, is by ’n teelplaas in Ermelo gered.

Van hulle het tussen rotte en hul eie ontlasting geslaap.

Die Highveld-Dierebeskermingsvereniging (DBV) probeer nou meer inligting kry sodat Elmarie Cilliers, eienaar van die Roodewal-teelplaas, aangekla kan word.

Sy het glo die siek honde vir tussen R5 500 en R7 500 verkoop.

Die probleem het onder die DBV se aandag gekom toe verskeie mense op die Facebook-blad Schnauzer FriendsZA gekla het.

Cherryl Blain van Kaapstad het in November verlede jaar ’n schnauzer-hondjie by Cilliers gekoop.

’n Paar dae later is die hond weens die virus dood. Volgens Blain het die hondjie ook neurologiese skade gehad.

“Ek het een van Cilliers se advertensies gesien en haar gekontak. Sy het gesê ek kan ’n swart schnauzer teen ’n spesiale prys van R3 200 koop.”

Sy het die hond op ’n vliegtuig Kaapstad toe gesit en dokumente gestuur wat wys hy het al sy inentings gekry.

Op die lughawe het hy doodstil in sy hok gelê en nie die water gedrink of sy kos geëet nie.

“Ek het gedog die hond is dalk moeg weens die vlug. Die eerste nag het ons nie geslaap nie, want hy was siek. Hy kon nie water inkry nie.

“Ons het hom die volgende dag na die veearts geneem. Ná verskeie toetse het die veearts vasgestel dat die klein schnauzer met verskeie virusse besmet is, onder meer die Parvo-virus. Daar was wurms en bloed in sy ontlasting. Hy het onbeheerbaar gebewe, wat ’n aanduiding van neurologiese skade is.”

Ek het gedog die hond is dalk moeg weens die vlug.

Cilliers het glo gesê die hond is moeg weens die vlug.

“Sy was so verbaas toe ek vir haar sê hoe siek die hond was. Drie dae nadat hy by my aangekom het, het hy gesterf. My hart was baie seer dat die hond so moes ly. Sy het geen empatie gehad nie en wou vir my ’n ouer schnauzer stuur. Dit het gevoel asof die hondjie wat gesterf het se lewe niks beteken het nie. Vir haar het dit net oor die geld gegaan.”

Willie Joythe, ’n inspekteur van die Highveld-DBV, het gesê 15 van die honde wat gered is, het huise gekry.

“Die honde het in draadhokke gewoon en het tussen rotte geslaap. Die hokke was baie vuil en party van die honde moes in hul ontlasting slaap. Met die hulp van Schnauzer Rescue soek ons vir hulle blyplek. Mense het intussen kos en komberse aan die honde geskenk wat ons baie help.”

Volgens Joythe samel die DBV nog inligting in en beoog hulle om Cilliers strafregtelik aan te kla.

Beeld het Cilliers sedert Sondag vir kommentaar in die hande probeer kry, maar sy kon nie bereik word nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.