Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sportheld Senzo se pa sê polisie is ‘pateties’
Senzo Meyiwa se pa, Samuel. Foto: JABULANI LANGA
Senzo Meyiwa

Ses maande nadat die sokkerheld Senzo Meyiwa in Vosloorus vermoor is, soek sy pa, Samuel Meyiwa, steeds antwoorde by die polisie.

“Die polisie is pateties en lui! Elke keer as ek hulle vra hoe ver hulle met die ondersoek is, antwoord hulle net dat hulle besig is,” het Meyiwa woedend gesê.

Hy sukkel steeds om sy seun se dood te verwerk.

“Dit gaan glad nie goed met ons familie nie. Ons almal het fisiek en emosioneel op Senzo staatgemaak,” het Meyiwa gesê.

“Ons het nie net ’n seun verloor nie, maar ook ’n broodwinner.”

Sedert die voormalige Bafana Bafana-speler en -kaptein se moord in Oktober verlede jaar by sy vriendin Kelly Khumalo se ouerhuis is die moordenaar nog nie vasgestrek nie.

Meyiwa is gefrustreerd met die polisie.

“Dit is onaanvaarbaar! Ek gaan nou dinge op my manier doen. Hou my dop!”

Volgens lt.genl. Solomon Ma­kgale, polisiewoordvoerder, duur die ondersoek voort.

“Op die oomblik kan ons niks nuuts met die media deel nie,” het Makgale gesê.

Verlede jaar het ooggetuies aan die polisie gesê dat Senzo deur een van twee gewapende rowers geskiet is. Saam by die huis was Khumalo, haar suster Zandile, haar ma, Ntombi, Zandile se kêrel, Longwe Twala, en Senzo se twee vriende Tumelo Madlala and Mthokozisi Twala.

Rapport het verlede jaar berig die ondersoekspan twyfel of daar werklik ’n inbraak was en vermoed een van die mense wat saam met hom gekuier het, is moontlik die moordenaar.

Meyiwa glo een van Senzo se vriende, ene Madlala, het waardevolle inligting.

“Hy sal nie my kind kan terugbring nie. Ek wil net hê hy moet die volle waarheid vertel sodat ek kan vrede vind,” het Meyiwa gesê.

“Hy was Senzo se beste vriend, hy moes die eerste persoon gewees het wat gebel het en vertel het wie ons seun vermoor het! Hy was nie eens by sy begrafnis nie.”

Madlala ontken alle aantygings wat Meyiwa teen hom gemaak het.

“Ek het vir Senzo se ma presies vertel wat daardie aand gebeur het. Die polisie het ons versoek om nie met die media te praat nie,” het Madlala gesê

Maar Meyiwa sal nie rus nie.

“Dit gaan tyd vat vir ons om te vergewe en te vergeet. Ek sukkel om te slaap. En my vrou huil elke keer as sy Senzo se naam hoor.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.