Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
skoonmaker glo geslaan, geskop
UK-studente kry borgtog in aanrandsaak
Speurkonstabel ook by saak betrek
Mitchell Turner, Aaron Mack en Chad de Matos het Maandag in die Wynbergse landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en crimen injuria. Hulle het Delia Adonis (52) na bewering op 17 Okto

Drie studente van die Universiteit van Kaapstad wat daarvan aangekla word dat hulle ’n vrou by Stadium on Main in Claremont aangerand het, is Woensdagaand ná ’n dringende aansoek voor regter Dennis Davis in die Wes-Kaapse hooggeregshof op borgtog vrygelaat.

Mitchell Turner, Aaron Mack en Chad de Matos moet Donderdag egter weer op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en crimen injuria in die Wynbergse landdroshof verskyn.

Hul prokureur, Anthony Berinato, het gesê Davis het gesê hy sien geen rede hoekom die drie nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

Hul eerste verskyning was Maandag, waarna hulle na die Pollsmoor-gevangenis gebring is in afwagting op hul borgtogaansoek, wat Donderdag sou geskied.

Die studente het glo op 17 Oktober vir Delia Adonis (52), wat as skoonmaker by Stadium on Main werk, op die parkeerterrein aangerand. Hulle was deel van ’n groep van vyf wat by die nagklub Tiger Tiger by Stadium on Main was. Twee van die studente word nog gesoek.

Adonis is glo aangerand nadat sy iemand anders wat na bewering ook deur die vyf aangerand is, gehelp het deur wetstoepassers te ontbied. Die vyf het haar na bewering na die parkeer­terrein gevolg en haar daar geskop en geslaan.

Intussen verskyn ’n speurkonstabel (27) wat in die Claremont-polisiekantoor werk Donderdag in die Wynbergse landdroshof op aanklagte van korrupsie en regsverydeling. Sy inhegtenisneming hou met die aanval verband.

’n Provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, het gesê die konstabel het glo ’n beëdigde verklaring by die staatsaanklaeringedien waarin hy gesê het Adonis wil die saak teen die vyf studente terugtrek. Adonis het egter nie toestemming vir die verklaring gegee nie.

Hy het glo ook na die studente gegaan en geld gevra om Adonis se mediese onkoste te betaal. Volgens hofstukke is hy R700 gegee, maar het hy dit nie aan Adonis oorhandig nie.

Van Wyk het gesê die konstabel is reeds deur sy bevelvoerder geskors in verband met ’n ander voorval wat voor die aanranding plaasgevind het. Dit hou glo verband met die onregmatige gebruik van polisievoertuie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.