Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Eksklusief:
Van Breda-moorde: Selfoon glo gebruik vir soektog oor VSA-bylmoord
Christopher Porco. Foto: Philip Kamrass/AP

’n Selfoon wat die polisie met die moordtoneel van die Van Breda-gesin van Stellenbosch kan verbind, is glo gebruik om inligting oor ’n bylmoord in Amerika op te soek.

Die selfoon is glo kort voor die bylmoord op drie lede van die Van Breda-gesin op die De Zalze-landgoed gebruik om op die internet op te lees oor die bylaanval op Peter en Joan Porco in November 2004 in Bethlehem, Amerika.

Christopher Porco (destyds 21) het sy ouers met ’n brandweerbyl aangeval. Sy pa het op die toneel gesterf en sy ma se gesig is vermink, maar sy het die aanval oorleef.

Volgens twee polisiebronne ná aan die ondersoek na die Van Breda-moorde is selfone en rekenaars forensies ondersoek en daar is glo bewyse gevind dat een selfoon gebruik is om op te lees oor die Porco-aanval.

Lees ook:

■ ​Terapiespan 'sê nie Henri mag Marli van Breda nie besoek'​

■ ​​Kontak met geliefdes ‘help Marli genees’​​

Martin van Breda (54), sy vrou Teresa (55) en hul oudste seun Rudi (22) is die aand van 26 Januarie in hulle huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch vermoor.

Marli van Breda (16) is met ’n byl teen die kop gekap en haar nekslagaar is glo met ’n mes gesny. Sy word tans versorg in ’n private rehabilitasiesentrum. Henri van Breda (20) het ook die aanval oorleef en gaan tans tuis by familie in Kaapstad.

Ben Rootman, ’n familiewoordvoerder, het Vrydag gesê hulle gaan nie op enige van die beweringe kommentaar lewer nie omdat dit alles deel van die polisie-ondersoek kan wees.

’n Provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, het Vrydag gesê ook die polisie gaan nie kommentaar lewer nie. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.