Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hoewe-egpaar ‘erg verniel’ in rooftog
‘Velle het van sy bene gehang’
Karen Bester, buurdogter van Hannes en Annetjie van der Merwe, vertel hoe sy Hannes aangetref het. Foto’s: Alet Pretorius

Toe Rina Bester haar 74-jarige buurvrou vol bloed van die bylhoue sien, kon sy niks anders doen as om net haar arms om die tannie te vou nie.

“Ek kan nie beskryf hoe dit was om haar so geskok, so gebroke te sien nie. Ek het haar vasgehou en saam gehuil,” het Bester gister vertel.

Annetjie van der Merwe se man, Hannes, “wat amper 80 is”, het kort tevore sowat ’n kilometer ver na die Besters gestrompel om hulp te soek.

Die velle het van sy bene gehang waar die aanvallers hom met ’n vuurwarm strykyster gebrand het.

Die De Wildt-gemeenskap in Noordwes steier nog tussen skok en woede nadat die egpaar Dinsdagoggend deur drie mans op hul hoewe aangeval is.

“Hulle is erg verniel,” het ’n buurtwaglid vertel.

Die egpaar is steeds in ’n hospitaal in Brits, saam in een kamer om die trauma ’n bietjie minder te maak.

Annetjie moes steke vir ’n kapwond aan die hand kry. Die bylhoue aan Hannes moes ook toegewerk word.

Karen Bester, Rina se dogter, het Hannes Dinsdag so 12:00 by hul deur hoor roep.

Bloed het oor sy gesig geloop.

“Hy het vertel dat hy net ná 09:00 uit die huis na die waterpomp gegaan het.

“Op pad terug het drie jongerige mans hom voorgekeer. Een het ’n pistool gehad, een ’n haelgeweer en die ander een ’n byl,” het Karen vertel.

Hannes is met die byl oor die kop geslaan.

Annetjie het die huisdeur vir haar man oopgesluit.

Toe sien sy die aanvallers. Sy het die deur weer probeer toemaak.

“Dit klink of een van die mans reeds naby was en die deur oopgedwing het. Die tannie het na die tweerigtingradio gehardloop om hulp te ontbied, maar die man is agterna. Hy het die mondstuk van die radio gegryp en die radio uit die muur gepluk,” het Karen gesê.

Die egpaar is vasgebind. Annetjie is met vuiste in die gesig geslaan, oor haar lyf geskop en met die byl se stomp- en skerpkant bygedam.

Hannes is ook aangerand en toe die aanvallers die kluissleutel soek, het hulle hom met ’n strykyster gebrand – een keer op elke bo-been.

Die aanvallers is later weg met onder meer vuurwapens en kontant.

Hulle het ook die motor se bande met die byl stukkend gekap en huis- en voertuigsleutels gevat.

Ná ’n lang gespook het die Van der Merwes losgekom en Hannes het gaan hulp soek.

“Die oom se bene het baie sleg gelyk, maar hy was uitermate kalm. Hy het gesê hy het die heeltyd mooi met die aanvallers gepraat, dat hulle nie die tannie so seer moet maak nie.

“Ek dink die oom het die situasie kalm probeer hou om te keer dat hulle vermoor word,” het Karen gesê.

Rina het Hannes terug na sy huis gevat nadat die gemeenskap se veiligheidsnetwerk ingeroep is.

Annetjie het uitgekom, maar sy wou nie dokter toe gaan nie.

“Sy het net haar kinders gesoek,” het Bester gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.