Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Haar regte pa bel polisie ná hy ooreenkoms sien
Vermiste kind is toe maats met eie suster
Zephany Nurse, wat 17 jaar gelede, drie dae ná haar geboorte, uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvoer is, is gevind. Foto: Argief

Zephany Nurse, wat 17 jaar gelede as ’n drie dae oue baba uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvoer is, is wonderbaarlik opgespoor.

Die vrou wat haar na bewering gesteel het, verskyn vandag (Vrydag) in ’n landdroshof in Kaapstad op aanklag van onder meer ontvoering en bedrog.

(Lees ook: Zephany Nurse gevind en ​Baba 17 j. gelede ontvoer - vrou in hof) 

Die 50-jarige vrou is Donderdagoggend by haar huis in Lavender Hill deur die Valke in hegtenis geneem nadat DNS-toetse getoon het dat ’n matriekmeisie van Retreat in Kaapstad inderdaad die kind is wat op 30 April 1997 langs haar ma, Celeste Nurse (toe 18), verdwyn het.

’n Persoon na aan die familie wat verkies om naamloos te bly, het vertel emosionele tonele het hulle Donderdag afgespeel toe die meisie besef het die ouers wat haar grootgemaak het, is nie haar biologiese ouers nie.

Die persoon het vertel van die “wonderbaarlike, genadige” en toevallige wyse waarop Zephany ná al die jare opgespoor is.

Volgens haar het die Nurse-egpaar se tweede dogter, wat vier jaar ná haar suster se verdwyning gebore is, vanjaar haar gr. 8-jaar in ’n hoërskool in Kaapstad begin.

“Die kinders het haar met verbasing vertel van ’n matriekmeisie wat verskriklik baie na haar lyk.

“Die meisies het daarna selfs vriende geword en die Nurse-dogter het haar ouers van haar nuwe vriendin vertel.”

Die egpaar het besef die 17-jarige meisie oor wie hul dogter so baie praat, kan hul kind wees. Die ouderdom het immers geklop.

Die egpaar het benewens die twee dogters nog twee kinders. Elke jaar vier hulle hul vermiste suster se verjaardag in haar afwesigheid.

Die pa het onder die voorwendsel dat hy sy dogter se vriendin wou ontmoet saam met hulle gaan koffie drink. Die ooreenkomste tussen die twee kinders was merkwaardig en hy het die polisie gebel.

Die egpaar wat Zephany as hul enigste kind grootgemaak het, is ondervra, maar het niks laat blyk nie.

Geen inligting kon gevind word wat ooreenstem met die tyd, datum en die hospitaal wat die “grootmaak-ma” van die kind se geboorte gegee het nie.

Sy is eers ses jaar ná haar geboorte geregistreer.

Volgens die familiebron glo sy nie die man het enigiets vermoed nie.

Die Nurse-egpaar, wat in ’n egskeiding gewikkel is, het na verneem word lank enkele kilometers van hul kind af gebly.

Die meisie is tans in die sorg van maatskaplike dienste.

Volgens lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, sal die “grootmaak-ma” ook aangekla word dat sy op ’n bedrieglike wyse voorgegee het dat sy die meisie se biologiese ma is.

Die identiteit van al die partye is bekend.

’n Buurvrou het Donderdag oor die meisie wat voor haar grootgeword het gesê sy is ’n “baie gelukkige kind, baie gelukkig”.

“Sy is tot in die afgrond in bederf – sy het alles gekry wat sy wil hê.”

Dit is nie seker wanneer en of die meisie met haar biologiese ouers herenig gaan word nie.

Só het Beeld destyds berig oor die baba se verdwyning.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.