Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Aandele’ in versinde myn slurp hul oudag-geld op

Een van die vele Suid-Afrikaners wat geld verloor het deur aandele te koop in buitelandse “myne” wat in werklikheid nie bestaan het nie, woon nou by een van sy kinders omdat al sy pen­sioen- en spaargeld daarmee heen is.

Donald Gudmanz Foto: Deon Raath

Donald Gudmanz (69) sê hy en sy vrou, Christel (68), is “finished” omdat hulle R1,5 miljoen verloor het in dié belegging wat veronderstel was om ’n groter neseier vir hul oudag te verskaf.

Hulle is deel van duisende mense wat ongenoteerde aandele gekoop het in Global Afrika Resources and Energy Corporation (Garek) en dié se voorgangers, Resourcefin Strategies International Limited (RSI) en Mwamko Afrika Trade Resource Industrial and Commerce Corporation Limited (Matric).

Ondersoekers van die Suid-Afrikaanse departement van handel en nywerheid het in 2009 reeds ’n verslag oor Garek uitgebring en aanbeveel dat aandeelhouers die verslag gebruik om vervolging teen maatskappydirekteure aan te vra om hul geld te probeer terugkry.

Mail & Guardian en finansiële media het berig oudpres. Quett Masire van Botswana was in ’n stadium ’n Garek-direkteur.

Die skema sou gewerk het as dit waar was. Maar dit was nie waar nie.

Die ondersoek deur die departement van handel en nywerheid het destyds bevind ’n groot deel van die beleggersgeld is nie gebruik om bates te koop soos aan die aandeelhouers gesê is nie, maar om bedryfsuitgawes te betaal en as kommissie aan die direkteure.

Garek het die heeltyd beloof hy wag om op die JSE genoteer te word, maar kon nie eens ’n prospektus oplewer nie, het Fin24 berig.

Die ondersoekverslag het getoon dat beleggers R74 miljoen in Garek en sy voorganger-maatskappye gepomp het. Hiervan het R24 miljoen na direkteure en R16 miljoen na makelaars gegaan.

Die ombud vir finansiële diensverskaffers het een van die makelaars in 2011 beveel om R660 000 met rente aan Frank McCarter te betaal. McCarter en sy vrou was een van die beleggers wat slegte raad van dié makelaar gekry en hul spaargeld gaan belê het.

Moneyweb het berig die makelaar, wat sy lisensie in 2009 verloor het, het die bevel verontagsaam.

Nou probeer Gudmanz ’n ander manier. Hy het prokureursbriewe laat skryf aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die Inkomstediens, die Reserwebank en die departement van handel en nywerheid om druk op hulle te sit om stappe te doen.

Intussen vrees Gudmanz vir sy lewe. Hy wil nie eens hê mense moet weet in watter dorp of stad hy woon nie. Hy het aan Rapport gesê hy het doodsdreigemente gekry.

Hy en sy vrou is destyds gekontak deur iemand uit ’n groep van makelaars. “Daar is aan ons gesê as jy geld insit, kry jy jou opbrengs binne ses maande. Hulle het gesê: ‘Koop vir R5 en as ons noteer (op die aandelebeurs) word dit R35’. Dit het na ’n goeie geleentheid geklink om geld te maak.”

“Die skema sou gewerk het as dit waar was. Maar dit was nie waar nie.”

Hy sê die beleggers het gedink hulle koop aandele in silikamyne en oliebore oorsee. Volgens Gudmanz het hy en Christel in tien paaiemente altesame R1,5 miljoen oorbetaal. As ’n voormalige sakeman in die kleinhandel het hy pen­sioen- en spaargeld gehad om daarvoor te gebruik.

Maar daar is nooit enige opbrengs aan hulle uitbetaal nie. “Die belofte van notering was heeltyd hul verskoning om geld by ons te kry.”

“Daar is nie eens ’n graaf in die grond gesteek nie (deur die maatskappye). Nou is óns down and out.”

In 2015 en 2016 het hy weens “dié kroekspul” vier klagte by die polisie ingedien, twee in Vryheid en een elk in Johannesburg en Pretoria.

Sy prokureur, Mercades Schoeman van Pretoria, sê prontuit in die briewe aan die owerhede Gudmanz is deur bedrieërs ingeloop.

Volgens een brief is die minister van handel en nywerheid kragtens die Maatskappywet gemagtig om regstappe in die betrokke maatskappye se naam in te stel om die skade te verhaal as dit gely is weens bedrog of ander wangedrag met die bevordering of bestuur van die maatskappye se sake. Die minister kan dan bedrae wat wanbestee is, probeer terugkry.

Die briewe versoek die owerhede om dringend stappe te doen teen die direkteure en amptenare van Garek, RSI en Matric “en dat sulke mense aan Suid-Afrika uitgelewer word”.

“Strafregtelike stappe kan ook deur die NVG ingestel word.”

Schoeman sê die myne was altyd ’n versinsel. “Daar is nie sulke myne nie.”

“Dit is net ’n ander vorm van staatskaping. Want daar was nooit rekenskap vir die geld wat uit die land verdwyn het nie.”

Meer oor:  Pensioengeld  |  Bedrog  |  Matric
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.