Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanklag teen pa wat kind van dak gooi, verander
Die verhoor van die man van Port Elizabeth wat sy kind van ’n huis se dak afgegooi het, is vir bevestiging van sy woonadres en ’n maatskaplike werker se verslag uitgestel.

Die man (38) se sinkhuis in die Joe Slovo-informele nedersetting is Donderdag gesloop kort nadat hy sy eenjarige kind van die dak afgegooi het.

Hy het die kind op die dak gehou om te probeer keer dat sy huis gesloop word.

Konst. Luyolo Nojulumba (27) van die metropolisie het die kind net betyds gevang voordat sy die grond getref het.

Konst. Luyolo Nojulumba (27, middel) van die metropolisie in Port Elizabeth word Maandag voor die landdroshof in New Brighton bedank deur Zakhele Mbhele (regs), DA-woordvoerder oor polisie, en Nqaba Bhanga (links), burgemeesterskomiteelid vir behuising in die Nelson Mandelabaai-metro, nadat Nojulumba die eenjarige kind gevang het toe sy van die huis se dak afgegooi is. Foto: Lulama Zenzile

’n Polisielid het die man op die huis se dak platgeduik en op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.

Maar toe hy Maandagmiddag in die landdroshof in New Brighton verskyn, is hy van kindermishandeling aangekla.

Nontshumayelo Balicawa, staatsaanklaer, het gesê die man word voorlopig van kindermishandeling aangekla, maar die aanklag kan in poging tot moord verander word hangende die ondersoek.

Tsepo Ndwalaza, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê die aanklag is verander aangesien die dossier nie tans genoeg bewyse bevat dat die man die gevolge van sy dade moes voorsien nie. 

“Ons moet kan bewys dat hy die bedoeling gehad het om dit te doen,” sê Ndwalaza.
In die hof het Balicawa gesê die staat sal borgtog teenstaan omdat die man se woonadres nie bevestig is nie.

Mxolisi Moolman, die man se regsverteenwoordiger van die Regshulpraad, het gesê die polisie het 48 uur gehad om sy woonadres te verifieer en hy kan nie verstaan hoekom sy kliënt, wat van ’n bylae 1-misdryf aangekla word, nie op dieselfde dag borgtog kan kry nie.

“My kliënt se skuiling is gesloop en hy het kort daarna ’n woonadres aan die polisie beskikbaar gestel.

“Hoekom moet hy nog ’n nag in die tronk deurbring net omdat iemand nie hul werk gedoen het nie?”
’n Groep vroue het Maandagmiddag voor die landdroshof in New Brighton betoog ter verdediging van die pa wat sy kind van sy sinkhuis se dak afgegooi het. Die vroue het geskree die media het “vals” en “sensasionele” stories oor die pa gepubliseer. Foto: Lulama Zenzile

Moolman meen die staat het die uitstel sonder borgtog aangevra omdat hulle nog “oor die aanklag wil nadink”.

Balicawa het gesê die ondersoek sal nie in die volgende paar dae bewyse oplewer wat die aanklag sal verander nie. Borgtog word bloot teengestaan omdat die man se woonadres nie bevestig is nie.

“Wat as die beskuldigde nie welkom is by dié adres nie, waar gaan die polisie hom dan opspoor?” het Balicawa gevra.

Landdros Shivan Maharaj het gesê die hof moet in die kind se belang optree en het ’n verslag van ’n maatskaplike werker aangevra.

Die kind en haar ma is tans onder die sorg van ’n maatskaplike werker.

Maharaj het die verrigtinge tot 23 April uitgestel sodat die man se woonadres bevestig kan word.
Buite die hof het Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor polisie, gesê daar is ’n tekort aan personeellede en hulpbronne in polisiekantore.

“Dit kan nie wees dat iets so eenvoudigs soos die verifiëring van ’n woonadres, wat verg dat iemand ry en die adres bevestig, die rede is dat ’n proses opgehou word en die middelpunt van ’n debat raak nie.

“ ’n Adres kan binne twee uur, selfs minder, bevestig word.

“Maar polisiekantore het nie genoeg personeellede of hulpbronne nie en dit veroorsaak sulke probleme,” het Mbhele gesê.
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Kindermishandeling  |  Kind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.