Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanlyn ‘kêrel’ pers bejaarde af met stout video

’n Vrou (78) van Gauteng het ’n dubbele terugslag beleef met ’n aanlyn liefdeslenter. Sy word nou afgepers met ’n stout video wat sy vir haar “kêrel” gestuur het.

Igna Muller van Heidelberg sê haar liefde het haar al meer as R30 000 gekos. Sy is al 17 jaar ’n weduwee.

Igna Muller (78) van Heidelberg se verhouding met ’n internet-swendelaar het haar tot op hede meer as R30 000 gekos. Foto: Deon Raath

“Die adder het gesê sy naam is Donald James en hy is ’n Kanadese ingenieur wat in Kaapstad bly. Ons het stoute foto’s en video’s vir mekaar geneem en gestuur. Nou word ek daarmee afgedreig,” sê Muller.

Die “vriendskap” tussen hulle kom al ’n pad.

“Ons het vroeg in 2017 op Facebook vriende geword, toe begin hy oor Messenger met my geselsies te maak. Hy was vol praatjies en beloftes. Ek moes geweet daar is fout.”

Sy klik haar tong vererg.

Ek het die video en alles van hom van my foon afgevee, want ek kry skaam.

“My kinders het van die begin af niks van sy stories geglo nie, maar ek wou nie hoor nie.”

Muller sê James se aksent het vir haar vreemd geklink, al het hy gesê hy is Kanadees.

Haar seun dink dis eerder Nigeries.

Die “ingenieur” met die mooi woordjies wou ook nooit sy geboortejaar verklap nie, maar sy verjaardagdatum het hy graag gedeel.

“Ek het later vir hom gesê alles is verby as hy my nie sê hoe oud hy is nie. Toe sê hy hy is in 1967 gebore.”

Sy glimlag wrang.

“Ek het vir hom gesê my jongste dogter is so oud soos hy en toe ken liefde skielik nie ouderdom nie en ouderdom is net ’n nommer.”

’n Foto van “Donald James” wat ’n internet-skermunkel vir Igna Muller gestuur het.

Muller sê die vriendskap was aanvanklik net dit.

“Hier in November of Desember 2017 het dinge begin warm raak. Ses maande gelede (einde 2018) wou hy trou en toe raak dinge tussen ons baie warmer.”

Sy dink dis toe dat sy die gewraakte video geneem en gestuur het.

“Ek het die video en alles van hom van my foon afgevee, want ek kry skaam. Hy het gevra ek moes iets doen. Ek het dit gedoen. Ek gaan jou nie sê wat nie, dis vieslik,” sê Muller.

Van vroeg in die vriendskap het James haar belowe hy sou kom kuier aan die Suikerbosrand, maar daarvan het daar dadels gekom. Sy “kuiers” het net elke keer vir Muller geld gekos.

“Dis seker omtrent vyf keer wat hy sou kom kuier. ’n Paar keer het sy kar gebreek en een keer het die vliegtuig vir hom weggery. Elke keer was dit op ’n manier my skuld volgens hom. Dan betaal ek maar weer.”

In sy boodskappe aan haar noem hy haar “my wife”.

“Dan sê ek vir hom ek is g’n jou bleddie wife nie. Ek het ’n paar keer hom probeer los dan pleit hy weer soos ’n advokaat. En ek het mos maar ’n sagte hart.”

Die afgelope Desember was die laaste keer wat James by haar sou kom kuier het.

“Sy kar het weer gebreek. Hierdie keer iewers in die Karoo. Ek kon einde Januarie nie my rekeninge betaal nie.”

In hierdie Januarie van onbetaalde rekeninge het Muller eindelik besef daar was ’n slang in die gras.

“Ek het hom oral geblok sodat hy my nie meer kon pla nie, toe bel hy my baie dreigend verlede week van ’n nuwe nommer af en sê hy is ’n ‘beast’ en hy gaan my wys. Hy het die video vir mense aangestuur wat dit oor die hele wêreld gaan publiseer. En toe bel Wendy my.”

Ina sug swaar.

“Sy sê sy werk vir hierdie mense wat nou die video het en ek moet hulle R8 300 betaal, anders publiseer hulle dit. Ek het nie daardie geld nie, dis my hele pensioen.”

Sy skud haar kop.

“Ek hoop nou as ek hieroor praat, sal hierdie mense my nou uitlos en ek kan ander mense waarsku. Ek het niks meer wat hierdie adders kan vat nie. Ek het niks geld nie, nie eens ’n kar nie en ek bly by my kinders, so hulle moet nou maar doen wat hulle wil.”

“Donald James” en “Wendy” het nie op een van talle oproepe en boodskappe van Rapport gereageer nie.

Meer oor:  Video  |  Weduwee  |  Facebook  |  Afpersing  |  Swendelaar
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.