Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanslag op geldwaens duur voort in Gauteng
Transitorowers het Maandagoggend op ’n Fidelity-geldwa in Kempton Park toegeslaan. Dit was een van twee transitorooftogte Maandagoggend. In die agtergrond brand een van die verdagtes se motors wat gedurende die rooftog gebruik is. Foto: Verskaf

Die toenemende aanslag op geldwaens het Maandag in Gauteng voortgeduur.

Transitorowers het vroegoggend in twee verskillende voorvalle op geldwaens van die Fidelity-sekuriteitsgroep in Pretoria en Kempton Park toegeslaan.

Die eerste rooftog was omstreeks 07:15 by ’n vulstasie in Hermanstad in Pretoria.

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van Fidelity, sê in ’n verklaring drie gewapende verdagtes het sekuriteitswagte oorrompel toe hulle geld vanuit ’n OTM verwyder het.

Hy sê die verdagtes het twee geldtasse en ’n geweer geroof en is toe in ’n rooi Tata-voertuig fort.

Die verlies was vanweë tegnologie in ons geldwaens minimaal. Ongelukkig is wagte in die voorval beseer.

“Die span het die voertuig agternagesit en is later bygestaan deur ’n ander taakspan. Die Tata-voertuig en die tasse met die geld is later gevind. Die verdagtes het egter te voet gevlug,” sê Bartmann in die verklaring.

In die tweede voorval het ’n onbekende aantal gewapende verdagtes in Parkland-rylaan in Esther Park, Kempton Park, op ’n geldwa én sy ondersteuningsvoertuig toegeslaan.

“Die verdagtes het vanuit vier voertuie op albei voertuie begin skiet. Dit lyk asof hulle die ondersteuningsvoertuig eerste aangeval het en toe die geldwa gestop het,” sê Bartmann.

Die rowers het die geldwa met plofstof oopgeblaas om toegang tot die geld te verkry.

“Die verlies was vanweë tegnologie in ons geldwaens minimaal. Ongelukkig is wagte in die voorval beseer,” sê Bartmann in die verklaring.

Volgens hom is die toename in transitorooftogte kommerwekkend. “Ons het in die eerste helfte van die jaar ’n afname in die aantal transitorooftogte gesien, maar dit tel nou weer op,” sê hy.

Dié twee rooftogte Maandagoggend bring die totale getal rooftogte sedert die begin van Augustus op vyf te staan.

Bartmann sê niemand is nog vir die voorvalle Maandagoggend in hegtenis geneem nie.

“Enige inligting rondom die voorvalle sal waardeer word.”

Kol. Brenda Muridili, Valke-woordvoerder, het die twee voorvalle bevestig.

Sy sê die polisie ondersoek klagte van transitoroof.

In ’n verklaring sê die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) dat transitorooftogte toegeneem het soos wat die inperkingsregulasies verslap is.

“Ongeag die vrese dat hierdie soort misdaad aan die toeneem is, is daar steeds ’n 5%-afname in transitorooftogte teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is vanweë die goeie samewerking tussen Sabric, sekuriteitsmaatskappye, die regering en ander relevante owerhede,” lui ’n verklaring van Sabric.

Meer oor:  Transitorooftogte  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.