’n Oudpolisielid en getuie teen Zane Kilian (39), wat onder meer teregstaan daarop dat hy die vermoorde lt.kol Charl Kinnear (52) se selfoon nagespoor het, het Maandagaand ’n aanslag op sy lewe in Johannesburg oorleef.
Bronne sê onbekende skieters het kort ná 21:00 voor Bradley Goldblatt se huis in Highlands North stilgehou en op sy huis en motor, wat in sy oprit geparkeer was, geskiet.
Goldblatt, wat verbonde was aan die Edenvale-polisiekantoor aan die Oos-Rand en onlangs bedank het, het glo die polisie kort ná die inhegtenisneming van Kilian genader en in ’n volledige verklaring bewerings uiteengesit wat verband hou met hoe dit moontlik was om Kinnear se foon te “ping”.
Daar word in sekere kringe van “ping” en “poling” gepraat wanneer jy iemand deur middel van sy selfoonnommer opspoor. Dit word gedoen deur die afstand van die toestel van verskeie selfoontorings te bepaal en só ’n redelike akkurate ligging van die toestel te bepaal.

Zane Kilian toe hy op 10 November in Kaapstad se landdroshof verskyn het. Foto: Gallo Images
Goldblatt het Maandag kort ná 22:00 gesê hy is “oukei”. Hy het gesê iemand het op sy huis en voertuig geskiet. Hy weet egter nie wie die skieters is nie.
Hy het gesê die polisie is by hom en dat hy Dinsdag gebel kan word.
Saak teen Kilian weens virusgeval by NVG uitgestel
Kilian sal intussen minstens nog 'n week in aanhouding moet bly nadat sy aansoek om borgtog nie Dinsdag in die Bellville-landdroshof kon voortgaan nie. Die aanklaer in die saak, adv. Greg Wolmarans, is in isolasie nadat hy in noue kontak was met iemand wat die koronavirus opgedoen het. Die hof het gehoor dat die kantore van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Kaapstad weens 'n Covid-19-geval tydelik gesluit is. Alle personeellede wat in die Dorpstraat-kantoor werk, is vir 14 dae in isolasie. Adv. Blaine Lazarus het Dinsdag vir Wolmarans ingestaan en gevra dat Kilian se aansoek tot 8 Desember uitgestel word. Kilian is sedert 22 September in aanhouding nadat hy by sy huis in Springs aan die Oos-Rand in verband met Kinnear se moord in hegtenis geneem is. Hy staan tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, die onwettige onderskepping van kommunikasie en bedrog.Hy word daarvan aangekla dat hy Kinnear se selfoonsein tot met sy dood op 18 September nagespoor het. Die nasporing het glo in Maart vanjaar begin.
- Kilian staan ook tereg op die mislukte sluipmoordaanval op William Booth, bekende Kaapse strafregprokureur, in April vanjaar in Higgovale in die stad. Booth se selfoonsein is glo 653 keer nagespoor.