Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanval in Stellenbosch ’n 'beplande moord’

“Dit was nie ’n plaasaanval nie, dit was ’n beplande moord.”

So glo ’n vriend van Stefan Smit (62), eienaar en wynmaker van die plaas, Louiesenhof, buite Stellenbosch wat Sondagaand doodgeskiet is. Hy en Smit het mekaar ses jaar lank geken.

“Stefan het vir my gesê hy kry doodsdreigemente en vrees vir sy lewe,” sê dié vriend, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het.

Louisenhof
Die Louiesenhof-wynlandgoed. Foto: Jaco Marais

Hy sê Smit was ’n lieflike, liefdevolle, omgee mense-mens wat baie vir ander mense gedoen het.

“Ek weet nie wie so iets aan hom wou doen nie, maar ek sê vir jou dat dit ’n beplande moord was. Die aanvallers het verby die ander huise geloop en net vir Stefan doodgemaak, terwyl daar ander mense in die huis was.”

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het Maandagoggend bevestig dat ’n 62-jarige man, sy vrou en ’n familievriend ten tyde van die moord in die huis was.

Volgens Traut het vier aanvallers by ’n deur ingegaan wat nie gesluit was nie, waarna hulle Smit vermoor het terwyl sy vrou en familievriend ook in die huis was. Die rowers het besittings van die familie gesteel, waarna hulle gevlug het.

Pieter Haasbroek, ’n vriend van Smit, het in ’n e-pos wat aan Netwerk24 gestuur is, geskryf: “Hulle was besig om aandete te eet saam met vriende toe vier gemaskerde mans die huis binnegekom het. Hulle het Smit doodgeskiet. Wat ons gevrees het, het waar geword.”

Die vriend met wie Netwerk24 telefonies gepraat het, sê dat hy dink nie Smit het baie geld in sy kluis gehad nie.

“Hy’t nie eens meer baie wyn of brandewyn in sy huis gehad nie. Hy het vir my gesê dat hy begin afskaal het ná die hofsaak.”

Louiesenhof
Die hek na die Louiesenhof-wynlandgoed. Foto: Jaco Marais

Die vriend het verwys na die hofaansoek waarin inwoners van Kayamandi, wat naby die plaas geleë is, in Julie 2018 op 60 ha van Smit se grond, wat in ’n familietrust is, begin plak het. Ongeveer 1 200 strukture is op die grond opgerig.

Soos Rapport berig het, het Smit, nadat hy ’n hofbevel toegestaan is om die plakkers te verwyder, dit nie gedoen het nie omdat die plakkers gedreig het om die dorp te plunder. Smit het eerder in oorleg met die munisipaliteit en die gemeenskap ’n oplossing probeer soek.

Die vriend sê Smit het duisende rande aan die hofsaak bestee, maar hy het steeds mense probeer help.

“Hy het gevoel hy word as die vark in die verhaal uitgebeeld, maar hy wou net die mense van sy grond af hê. Hy het tot ander mense wat sukkel probeer help.”

Stellenbosch
Louiesenhof

Die vriend sê dat Smit nie eens altyd aangedring het op huur as mense nie kon betaal nie.

“Soms was daar van sy huurders wat twee maande lank nie huur kon bekostig nie, maar hy het hulle gehelp. Hy sou nie ’n vlieg seermaak nie. Hy het omgegee vir sy medemens, al was hy bekommerd oor die land.”

Die vriend sê hy sal bly glo dat dit ’n beplande moord in plaas van ’n gewone plaasaanval was.

“Hoekom skiet jy een mens dood en los die ander mense? Kan jy dink hoeveel mense gaan nou werkloos wees omdat Stefan vermoor is? Stefan was een van die beste wynboere in ons omgewing.”

Agri Wes-Kaap het ook Maandagoggend in ’n verklaring sy skok en hartseer oor Smit se moord uitgespreek.

“Mnr. Smit is die tweede slagoffer van ’n plaasmoord in minder as ’n maand in die Wes-Kaap nadat mnr. Tool Wessels van Bonnievale in Mei vermoor is.”

Smit het twee dogters, Louie en Martine, albei in hul 20's, by sy eksvrou, Esme, wat tans in Swellendam woon. Die dogters woon en werk in die buiteland. Hulle het Sondagaand van sy moord verneem. 

Smit is jare gelede weer getroud. 

Meer oor:  Stefan Smit  |  Louisenhof  |  Moord  |  Stellenbosch  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.