
Wimpie du Toit en sy ma, Janetta (82), is Vrydagaand op die plaas Lovedale aangeval.
“Ek het nie my ma herken nie,” sê Frans du Toit, ’n boer van Petrusburg in die Vrystaat wat eerste op die toneel was waar sy ma, Janetta (82), en sy broer Wimpie (54) Vrydagaand op die plaas Lovedale aangeval is.
Frans sê Wimpie en sy ma het televisie gekyk toe die krag afgaan.
“Wimpie het na die verdeelkas buite gegaan, waar hulle hom ingewag het.
“Hulle het my broer met twee ysterstawe aangeval en hom by die huis ingesleep,” sê Frans.
“Dit moes ’n bloedige geveg gewees het, want van die aanvallers se bloed is buite gekry. Ek dink hy het hulle dalk so gebyt.”
Frans sê sy ma het die struweling in die huis gehoor en die aanvallers van Wimpie probeer aftrek.
“My ma is toe ook aangeval en verskriklik oor haar kop geslaan.
“Haar hare lyk asof dit gekleur is, so rooi was dit van die bloed.”

Volgens Frans du Toit, wat eerste op die toneel was, lyk dit of daar ’n bloedige geveg tussen die rowers en sy broer was.
Die aanvallers het ’n rewolwer uit die kluis gesteel en al die kaste oopgeruk, maar Frans sê hy kan nie sien wat nog gesteel is nie.
“Ons hou nie waardevolle items in ons huise nie, juis omdat dit so gevaarlik is.”
Hy sê die rowers het sy ma se hande vasgebind, maar sy kon die loswikkel en het ’n noodknoppie gedruk waarna die gebied se veiligheidsplan in werking gestel is.
Frans, wat 4 km van sy ma en broer woon, was eerste op die toneel.
Du Toit en sy broers, Wimpie en Louw, boer almal saam en besit die Lovedale Boerdery Trust.
Hy sê hy het sy broer in die gang hoor roggel en dit lyk asof hy daar inmekaargesak het.
“Ek het geglo hy was besig om te sterf. Hy het vir my gesê: ‘Dit is klaar met my.’ ”
Wimpie en Janetta is in die Mediclinic in Bloemfontein opgeneem en sal albei geopereer moet word omdat hulle erge gesigfrakture opgedoen het.

Wimpie en Janetta is met ernstige gesigfrakture per ambulans na die Mediclinic in Bloemfontein vervoer.
Du Toit sê die ondersteuning van die gemeenskap is ongelooflik. Paaie is binne minute afgesper, maar die aanvallers, wat volgens alle aanduidings vyf mans was, is nog nie aangekeer nie.
Du Toit sê die aanvallers het ’n klomp droë chilli bites wat sy ma gemaak het uit die kombuis gesteel. In die sitkamer het haar breiwerk waarmee sy nog die aand besig was, gelê.
Du Toit sê verlede naweek was daar ’n poging om hom aan te val.
“Hulle het ’n skuifdeur oopgebreek, maar ek het hulle gehoor en opgestaan. Ek het ook kwaai honde en hulle het weer padgegee.”
Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die aanvallers het ’n .32-rewolwer gesteel en is nog nie aangekeer nie.