Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanvalle op lorries eis 200 lewens, R1,2 mjd. in 1 jaar

Weerstand teen buitelandse drywers is nie die ware rede vir die dramatiese toename in aanvalle op vragmotors op veral die N3-hoofweg nie. Dit is boewery soortgelyk aan die konstruksiemafia wat boupersele landwyd verlam, sê die ekonoom Mike Schüssler. Hy noem dit ekonomiese sabotasie.

Schüssler het gereageer op ’n bewering van die Padvragvereniging dat die All Truck Drivers Foundation (ATDF) wat daarop aandring dat alle buitelandse drywers onmiddellik ontslaan word, eis dat net ATDF-lede aangestel word en dat werkgewers R350 per maand aan die organisasie betaal vir elke ATDF-lid in hul diens.

“Maatskappye wat nie hieraan voldoen nie, word gedreig met weerwraak en dat hul voertuie aan die brand gesteek sal word,” sê die Padvragvereniging.

Schüssler sê dit is dieselfde werkswyse wat die konstruksiemafia volg deur boupersele met geweld tot stilstand te dwing tensy hulle toegang kry tot 30% van die boukontrak se waarde, kastig ten bate van die plaaslike gemeenskappe.

88% van produkte in Suid-Afrika word per pad vervoer teen ’n winsgrens van so min as 3,8%, sê Schüssler. “Dis nie verniet dat daar gesê word transport is tranesport nie,” sê hy.

’n Werkgewersorganisasie in die padvragbedryf het op 31 Mei ’n hofbevel in die hooggeregshof in KwaZulu-Natal verkry wat die ATDF verbied het om sy lede “aan te rand, te mishandel, teister, dreig of intimideer” of hul voertuie te “beskadig, met klippe te gooi en te vernietig” en hul vervoerbedrywighede te belemmer.

Ten spyte daarvan is 17 vragmotors verlede naweek op die N3 aan die brand gesteek en dié hoofroete tussen Gauteng en Durban is ure lank gesluit.

Die versekeringsgroep Hollard het aan Rapport syfers beskikbaar gestel van misdaadvoorvalle wat die 5 183 vragmotors wat die groep dag en nag in hul risikobestuursentrum moniteer die afgelope vyf maande geraak het. Daar was nege kapings, ses pogings tot kapings, 11 voorvalle van protesaksie, drie drywers is beroof en drie voertuie is gesteel.

Volgens Schüssler is daar 250 000 vragmotors op Suid-Afrika se paaie, wat beteken die aantal misdade teen vragmotors per maand sal in die duisende wees.

In die vyf maande het die risikobestuursentrum 46 000 hoë-risiko-noodseine ontvang van vragmotors wat op die pad is. Dit sluit misdaad- en ongelukverwante voorvalle in.

Vragmotors wat gemeenskapsonluste teëkom, word gereeld onder die klippe gesteek of aan die brand gesteek. Die drywers vlug dan vir hul lewens.

Die private speurder Danie Day wat voorvalle namens versekeraars ondersoek, het van die verklarings wat hy van drywers afneem, aan Rapport beskikbaar gestel. Die een ná die ander drywer vertel hoe hulle voor misdadigers en oproermakers moes vlug vir hul lewe.

Sewraj Girdhurparsadh van Aliwal Security wat gewapende begeleiding vir vragmotors verskaf, sê op die N2-hoofweg tussen Oos-Londen en Kokstad waar vragmotors weens die kronkelende en heuwelagtige paaie so stadig soos 30km/h ry, spring misdadigers op die vragmotors, sny die seile wat die vrag bedek oop en gooi die vrag af. Dan spring hulle eenvoudig af en laat spaander. Dit gebeur ook by stop-en-rypunte by padwerke op die roete, sê hy.

Soortgelyke stropery vind algemeen plaas waar voertuie om een of ander rede stilstaan en in Beaufort-Wes gebeur dit sommer by die verkeersligte, het een drywer aan Rapport gesê.

Belhamels gooi rotse van brûe op voertuie om hulle tot stilstand te dwing sodat hulle die vrag kan steel. Drywers word gereeld beroof wanneer hulle stilhou om te rus en batterye en buitebande word gereeld van vragmotors af gesteel.

Volgens die Padvragvereniging het die aanslag oor 12 maande meer as 200 lewens geëis en 1 200 voertuie is beskadig of vernietig teen ’n totale koste van sowat R1,2 miljard vir die ekonomie.

* Lees ook Hanlie Retief se onderhoud met Jan Jansen wat in sy vragmotor met ’n petrolbom aangeval is.

Meer oor:  Mike Schüssler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.