Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Aanvalle op vragmotors is aanvalle op SA ekonomie’

Die organisasie Road Freight Association (RFA) wat die padvragmaatskappye verteenwoordig, waarsku in ’n sterk bewoorde brief aan pres. Cyril Ramaphosa die aanvalle op vragmotors landwyd is niks anders nie as ’n oorlog teen die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Dit kan ook die land destabiliseer.

Meer as 20 vragmotors is sedert verlede week aangeval en aan die brand gesteek. Dit word glo gedoen uit protes teen die gebruik van buitelandse vragmotorbestuurders deur padvervoermaatskappye.

Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die RFA, sê in die brief wat Dinsdag in die vroeë oggendure aan Ramaphosa gestuur is, die aanvalle verwoes nie net menselewens nie, maar ook maatskappye, die skep van werkgeleenthede, ekonomiese aktiwiteit, goedere, vragmotors en vervoergeriewe.

Aanvalle op vragmotors is ’n aanval op die Suid-Afrikaanse ekonomie, waarsku die Road Freight Association in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Argief

Dit skrik ook beleggers af om te belê in die verspreiding van goedere deur Suid-Afrika na die res van Afrika.

Wat ook kommerwekkend is, is dat die aanvalle met militêre presisie gepaardgaan.

Die aanvalle op die vragmotors kom saam met protesoptrede van drie dae om padvervoermaatskappye te dwing om nie buitelandse vragmotorbestuurders in diens te neem nie.

Kelly sê dit is net ’n dekmantel.

Die organisasie All Truck Drivers Forum and Allied South Africa, het vroeër in ’n verklaring gesê hy probeer al die laaste drie jaar om padvervoermaatskappye tot ander insigte te dwing.

Hy beskuldig hulle daarvan dat hulle buitelandse vragmotorbestuurders aanstel omdat hulle goedkoper as Suid-Afrikaanse bestuurders is en bereid is “om soos slawe lang ure te werk”.

Wat ook kommerwekkend is, is dat die aanvalle met militêre presisie gepaardgaan.

Kelly sê in die brief die aanvalle op die vragmotors sal nie Suid-Afrika help om op ekonomiese vlak te herstel nie.

Hy sê die RFA is bekommerd oor die gebrek aan optrede deur die regering.

Dit wek die indruk die regering is oorgerus met dié soort protesoptrede gegewe dat Bheki Cele, minister van polisie, wesenlik nog niks gedoen het om die aanvalle te probeer stop nie.

“Tot dusver was alles reaksie net reaktief.”

Kelly sê die kwessie oor die gebruik van buitelandse vragmotorbestuurders sleep nou al langer as drie jaar voort. Die RFA het op verskeie geleenthede met die nasionale bedingingsraad vir die padvrag en logistieke bedryf (wat vakbonde insluit) met die betrokke ministers in die ministeriële taakspan oor die kwessie gepraat.

Sekere voorstelle is gedoen, maar dit is nie doeltreffend of met die nodige dringendheid toegepas nie.

Die aanvalle word uitgevoer met militêre presisie, wat daarop dui dat daar ’n element van gekoördineerde leierskap en ’n sekere vlak van militêre opleiding is.

Kelly skryf Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders is ook al in aanvalle op vragmotors dood of beseer.

Daarom gaan die aanvalle duidelik nie oor die buitelandse vragmotorbestuurders nie.

Suid-Afrika kan die wetteloosheid, misdadigheid, brandstigting, intimidasie en afpersing nie langer bekostig nie.

“Die aanvalle word uitgevoer met militêre presisie, wat daarop dui dat daar ’n element van gekoördineerde leierskap en ’n sekere vlak van militêre opleiding is.

“Ons is nie seker wat die doelwit is nie, maar dit lyk of die destabilisering van die land ’n groot deel hiervan is.

“Dit is sabotasie, en dit is oorlog teen die Suid-Afrikaanse ekonomie en die land se mense.”

Kelly waarsku die gevaar bestaan dat die geweld kan vererger as gefrustreerde, kwaad en finansieel sukkelende Suid-Afrikaners sou begin om hul personeel, hul bates, eiendom en die voortbestaan van hul ondernemings te beskerm.

Daarom is dit nodig dat Ramaphosa dringend ingryp.

Die presidensie se kommentaar sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.