Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanvalle op vragmotors ’n ‘ekonomiese tragedie’

In wat beskryf word as ’n “massiewe operasie” sal ’n interministeriële taakspan dringend werk daarvan maak om oplossings te kry vir die hernude vlaag van gewelddadige betogings gemik op padvervoerondernemings.

Minstens vier vragmotors is Sondag op die N3 in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek. Enkele aanvalle op vragmotors is ook in die Wes-Kaap, Mpumalanga, die Oos-Kaap en Gauteng aangemeld. In een van dié aanvalle het ’n Kaapse vragmotorbestuurder, Bernard Groenewald, erge brandwonde opgedoen toe hy en sy vragmotor langs die N1 in Touwsrivier met petrolbomme bestook is.

Bernard Groenewald se vragmotor in ligte laaie nadat dit met ’n petrolbom gegooi is. Foto: ER24
Bernard Groenewald (49). Foto: Facebook

Kenners in die vervoerbedryf sê hoewel aanvalle op vragmotors reeds sedert April 2018 plaasvind, het die aanvalle die laaste tyd toegeneem. Die brandstigters is glo ontsteld omdat vragvervoerondernemings buitelanders as vragmotorbestuurders aanstel.

Adv. Priya Hassan van die Positive Freight Solutions Forum, wat meer as 3 000 vragmotoreienaars oor die land heen verteenwoordig, bestempel die 60 vragmotors wat die afgelope paar weke beskadig is as ’n “ekonomiese tragedie”.

Sy het Maandag gepraat op ’n mediakonferensie in Durban waar Bheki Cele, minister van polisie, Fikile Mbalula, minister van vervoer, Thulas Nxesi, minister van arbeid, dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, en Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, as lede van ’n ad hoc-komitee oor die geweld teen vragmotors teenwoordig was.

Volgens Hassan is van die ingrypendste besluite wat Maandag deur dié ad hoc-komitee geneem is om die sigbaarheid van die polisie op die N3 in KwaZulu-Natal te verskerp en reaksiespanne op te stel ten einde binne vyf minute te reageer.

Die ad hoc-komitee het ook ’n interministeriële taakspan op die been gebring wat bestaan uit senior verteenwoordigers van die departemente van vervoer, arbeid en binnelandse sake, asook die polisiediens en die provinsiale regering.

Daar is ook besluit om oortreders streng te vervolg en om strenger regulasies op te stel wat sal verhinder dat buitelandse werkers sonder wettige werkpermitte aangestel word.

Zikalala sê die taakspan sal binnekort belangegroepe, onder meer padvervoerondernemings, oor die voorgestelde stappe raadpleeg. Die taakspan moet binne twee weke terugvoering gee en met oplossings vorendag kom.

Palesa Phili, hoof van die Durbanse sakekamer, sê as die geweld voortgaan, sal dit ’n rampspoedige uitwerking hê op die plaaslike ekonomie, wat baie afhanklik van die vervoerbedryf is. Boonop kan die geweld ’n negatiewe uitwerking op die plaaslike toeristebedryf hê omdat die N3 ’n belangrike roete is.

Gavin Kelly, woordvoerder van die Padvragvereniging (RFA), meen egter die betogings het reeds ’n erge uitwerking op die vervoerbedryf. Hy sê verskeie vragvervoerondernemings is op die punt om hul deure toe te maak weens verliese omdat hul vragmotors beskadig is.

Volgens hom is sowat 1 400 vragmotors in Suid-Afrika sedert April 2018 beskadig. Die getal verwys egter nie net na vragmotors wat in die betogings beskadig is nie.

Con Roux van die N3 Toll Concession sê motoriste word steeds aangeraai om nie in die donker op die N3 te ry nie. Roux sê die situasie word dopgehou.

Volgens hom het die bestuur wat in beheer van die Mooirivier-tolhek is nie bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel nie omdat hy meen motoriste se veiligheid is wetstoepassers se verantwoordelikheid.

Meer oor:  Bernard Groenewald  |  Vragmotors  |  Misdaad  |  Aanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.