Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanvaller bederf goeie nuus oor kanker
Anneke van der Vyver se oog nadat dit by die dokter skoongemaak en behandel is.

Pleks dat sy die goeie nuus kon vier dat daar geen borskanker by haar gevind is nie, het ’n vrou van Somerset-Wes met glasstukke in haar oog huis toe gery nadat sy en haar dogter op die N2-snelweg aangeval is.

Anneke van der Vyver en haar dogter, Rianka (20), was Vrydag net voor 16:00 op die N2 naby die afrit na die lughawe op pad huis toe, toe twee mans die motor waarin hulle gery het, nader.

“Toe ek hulle die eerste keer opmerk, het ek vir my dogter gesê: ‘Hulle gaan moeilikheid maak’.”

Toe Van der Vyver in stadige verkeer moes stilstaan, het Rianka agtertoe gekyk. “Ek het hom in my truspieël sien kom. Hy was volspoed op pad na ons toe. Ek wou nog keer en seker maak die deure is gesluit, toe breek die hel los.”

Een van die mans het die ruit aan die bestuurder se kant met ’n stuk beton uitgeslaan.

“Hy het oral op my skoot en bors gegryp op soek na ’n selfoon of iets. Rianka het geskree en sy hande geslaan. Ek het probeer keer dat hy my wurg met die serp wat ek om my nek gehad het. Toe hy niks kry nie het hy laat los en weggehardloop. En daar sit ons verwese en geskok. Vol bloed en vol glas.”

Ek het hom in my truspieël sien kom. Hy was volspoed op pad na ons toe
Rianka van der Vyver

Van der Vyver sê haar linkeroog het gebloei. Sy het by die satelliet-verkeerskantoor naby die toneel gestop om hulp te vra.

“Die verkeersbeampte het gehelp om die ergste glas uit te kry sodat ons kon aanry. Toe ek uitklim het die stuk beton van my skoot afgerol. Ek het toe besef dinge kon soveel erger gewees het.”

Van der Vyver het verlede Dinsdag ’n borsondersoek gehad en was Vrydag van die dokter af op pad huis toe, toe die voorval plaasgevind het.

“Ek was so bly dat daar geen kanker gevind is nie. Toe steel die bliksems my vreugde.”

Sy sê sy was twee jaar gelede die slagoffer van ’n gewapende rooftog en haar kinders was slagoffers van ’n huisroof.

Die stuk beton waarmee Anneke van der Vyver se motorvenster uitgeslaan is.

“Nou is die ou wonde en vrese weer oopgekrap. Ons moet nou weer gaan vir berading. My dogter is ’n eerstejaarstudent en pak kalmeerpille in vir die dag.”

Volgens die Safe N2-projek, ’n netwerk van padgebruikers wat mekaar waarsku oor voorvalle op hoofpaaie, is vier sulke gevalle verlede week op die N2 aangemeld.

“Ons het ’n sterker teenwoordigheid van wetstoepassers op die N2 nodig. Ons hoor hulle het te min personeellede,” sê Mark Volker van die projek.

Hy waarsku motoriste om altyd paraat te wees. “Hou waardevolle artikels in die kattebak en hou altyd jou vensters toe in druk verkeer.”

Meer oor:  Somerset-Wes  |  Misdaad  |  Nie  |  N2  |  Vrou  |  Aangeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.