Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanvallers doen hulle as polisie voor, beroof VS-egpaar

’n Boervrou van Dewetsdorp in die Vrystaat het Maandag vir twee mans wat hulle as polisiebeamptes voorgestel het, koeldrank gegee. Kort daarna het die mans haar en haar man aangeval en beroof.

Drie mans het omstreeks 17:30 by Christo Richter se plaas Slangfontein opgedaag en gesê hulle is van die veediefstaleenheid se provinsiale kantoor wat inligting opvolg oor ’n voorval.

Hoewel die mans nie uniforms gedra of polisie-identiteitskaarte aan die egpaar gewys het nie, het die Richters geglo hulle is van die polisie.

Twee van die mans is saam met Richter die huis in terwyl die derde buite by die voertuig gewag het.

Willie Lombard, Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidsverteenwoordiger in die gebied, sê die mans is saam met Richter na sy kantoor en sy vrou, Annelie, het vir hulle koeldrank gegee.

Egpaar gedreig

Die mans het kort daarna vuurwapens uitgehaal en die Richters gedreig. Die egpaar se hande is met draad vasgebind en hul gesigte met kleefband toegeplak, sê Lombard.

“Hulle het gelukkig nie seergekry nie. Ek het vanoggend (Dinsdagoggend) met hulle gepraat. Dit is maar ’n bietjie emosioneel vir hulle en hulle is geskok, maar hulle is orraait.

“Hulle kon dood gewees het. Ons is dankbaar hulle is oukei,” sê Lombard.

Wit handskoene

Volgens inligting van ’n veiligheidsgroep het die aanvallers wit handskoene soos forensiese ondersoekers gedra en ook foto’s van die egpaar geneem.

Hulle het ook die egpaar hul honde laat toesluit omdat hulle bang is vir honde.

Die rowers het met die egpaar se selfone, ’n .22-geweer, ’n .38-rewolwer en kontant gevlug.

Die egpaar kon hulle bevry en hulp ontbied.

Die aanval kom net meer as ’n maand nadat ses mans die Pienaar-egpaar, Gert (81) en Joey (75), op hul plaas by Dewetsdorp aangeval het.

Dié rowers het die kluissleutel en geld geëis en het later met twee handwapens en ’n kleinkalibergeweer, beursie en selfoon gevlug.

Lombard sê hulle is bekommerd oor die aanvalle en die hele gemeenskap voel gegrief daaroor.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n saak van huisbraak word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

* Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, word gevra om die Dewetsdorp-polisiekantoor te bel by 051 541 5400 of die speurtak by 082 467 6362.

Meer oor:  Vrystaat  |  Beroof  |  Aanvallers  |  Huisroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.