Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanvallers dreig om suur in boer se oë te gooi

’n Boer van Frankfort is Maandagoggend deur twee mans op ’n plaas oorval en met kettings om sy nek en arms aan sy bakkie se breekyster vasgemaak.

Joep Marais van Bassopa Security in Frankfort sê Gert Terblanche (68) is deur mans genader wat voorgegee het dat hulle ’n skaap wou koop.

Hulle het op die plaas aan Terblanche gesê dit is nie nodig dat sy werkers saamry nie omdat hulle self die skaap sal vang.

Die mans het by die skaapkraal ’n skaap uitgekies en dit op die bakkie gelaai.

Op pad uit die plaas het een van die mans gesê hy wil water afslaan.

Toe Terblanche stilhou, het die mans hom oorval en ’n ketting om sy nek en arms gebind en dit met slotte gesluit.

Hulle het geld geëis en hom hierna aan die bakkie se breekyster vasgemaak en gesê hulle gaan hom doodmaak.

Die twee aanvallers het die bakkie se battery uitgehaal en dit probeer oopmaak om die suur in Terblanche se oë te gooi.

Die battery was egter geseël en hulle kon dit nie oopkry nie.

Sonja Terblanche, Terblanche se skoondogter, sê haar skoonma het aanhoudend na haar skoonpa se selfoon gebel en hy het aan haar gesê hy is op ’n ander plaas.

Die familie het onraad vermoed en aanhou bel, wat die twee aanvallers so ontsenu het dat hulle gevlug het.

Hulle is met Terblanche se beursie, selfoon en bakkiesleutels weg.

Terblanche, wat nog aan die bakkie vasgebind was, kon homself gedeeltelik bevry.

Marais sê sy maatskappy het teen 10:45 ’n noodoproep ontvang en gaan ondersoek instel.

Hy sê die boere, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en verkeerspolisie het almal saamgewerk.

Iemand het twee mans op die Heilbron-Frankfort-pad gesien hardloop en gesien die een man het ’n pistool agter by sy broek ingedruk.

Die eerste man is teen 11:10 aangekeer, waarna die ander man kort hierna ook in hegtenis geneem is.

Sonja sê haar skoonpa is nie gesond nie en het pas herstel nadat hy lank siek was. Hy ly aan emfiseem en die familie hoop hy sal herstel ná die skok.

Hy het ernstige kneusings opgedoen waar hy met die kettings vasgebind was en die mans het hom ook geskop.

Meer oor:  Gert Terblanche  |  Frankfort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.