Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanvallers ‘het lelike planne gehad’
Pieter en Erna Rademan van Vredefort het danksy goeie inligting ’n plaasaanval vrygespring.

“Ons het net geluister hoe word ons veilig gehou. Dit is soos engele uit die hemel wat om ons gestaan het,” sê Erna Rademan (60) wat saam met haar man, Pieter (61), Sondag die teiken van ’n beoogde plaasaanval buite Vredefort in die Vrystaat was.

Herman van Wyk, voorsitter van die Vredefortkoepel-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê die GPF het ’n week vantevore inligting gekry dat ’n bende beplan om die egpaar op hul plaas, Goedgedacht, aan te val en te beroof. Die Rademans, die polisie en plaaslike boere is vooraf gewaarsku om waaksaam te wees.

Hulle het lelike planne gehad, sê Van Wyk.

Lede van die GPF het Sondagmiddag ’n verdagte rooi Volkswagen Polo en ’n wit Isuzu-bakkie met GP-nommerplate in die omgewing gesien. Die GPF het sy aksieplan geaktiveer, die egpaar is ingelig oor die dreigende gevaar en die polisie se hulp is ingeroep. ’n Padversperring is by die ingang na die Rademans se plaas opgestel en die aanvallers is hier ingewag.

Die twee voertuie het net voor 21:00 opgedaag. Die bende het die padversperring gesien en probeer omdraai en wegjaag.

Van die verdagtes by die rooi Volkswagen Polo waarmee hulle glo ’n egpaar van Vredefort wou aanval.

Van Wyk sê die GPF-lede was voorbereid hierop en het die voertuie tot stilstand gedwing.

Die polisie het ses mense in hegtenis geneem, drie vuurwapens is by hulle gekry en daar is ook op die twee voertuie beslag gelê.

Van Wyk vermoed daar kon meer vuurwapens gewees het wat weggegooi is.

Rademan sê dit is ongelooflik om te weet ander mense los hul vroue en kinders by die huis om te verseker dat jy veilig is.

“Hulle is manne met murg in hul pype, dit is manne van kaliber, dis nou Koningskinders. Van die jong boere is ook kinders wat by my op skool was,” sê Rademan, ’n oudonderwyseres en gewese skoolhoof van die Chris van Niekerk Intermediate School op Vredefort.

"Dit is geweldig ontstellend om so iets te beleef, maar ons was nooit in gevaar nie. ’n Mens glo jy leef so dat ander jou nie leed sal wil aandoen nie. Natuurlik is daar ook vrae oor die lojaliteit van diegene na aan jou, want daar moet tog ’n rede wees dat hierdie mense van oorkant die rivier gekom het om ons aan te val.”

Rademan is ’n bekende in musiekkringe en sy en Pieter bedryf ’n onderneming wat gesuiwerde water verskaf.

Die gebied word as een van die gevaarlikste landbougebiede in die land beskou en plaasaanvalle en -moorde kom gereeld hier voer. In 2018 is Dirk Steenkamp (71) en in 2019 is Theunis Bosch (73) in die gebied op plase vermoor.

In 2015 is Hansie Raath (54), en twee seuns, Petrus Mohlamme (11) en Katleho Mosolodi (15), buite die dorp vermoor.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, het die voorval bevestig en die boere bedank vir hul hulp aan die polisie.

Meer oor:  Vredevort  |  Erna Rademan  |  Herman Van Wyk  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.