Twee mans wat vermoedelik drank by ’n huis in Port Elizabeth wou steel, word vir poging tot moord gesoek nadat hulle die huiseienaar in die skouer geskiet het.
Die mans het Sondagoggend vroeg die deur van die slagoffer se huis in Ngqikastraat, Motherwell, oopgeskop.
Volgens die polisie het hulle drank by die 54-jarige man en sy 35-jarige vriend geëis.
Kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê nadat die verdagtes meegedeel is dat daar nie drank in die huis is nie, het een van hulle ’n skoot probeer afgevuur, maar dit het nie afgegaan nie en hulle het gevlug.
Die verdagtes het egter ’n paar minute later na die huis teruggekeer en weer drank geëis. Toe hulle weer ingelig is dat daar nie drank is nie, het hulle twee skote afgevuur en weggehardloop. Die 54-jarige man is in sy linkerskouer gewond.
Naidu sê die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.
Intussen ondersoek die polisie in Joubertina ’n afsonderlike drankverwante voorval nadat sowat 100 gemeenskapslede lede van die polisie Vrydagaand aangeval het toe hulle meer as 300 liter tuisgemaakte drank by ’n huis gekonfiskeer het.

Die polisie het tuisgemaakte drank in ’n huis in Joubertina gekonfiskeer. Foto: Verskaf
Volgens kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, het die polisie inligting opgevolg oor drank wat in ’n huis in die Louterwater-gebied verkoop word. Hier is ’n 30- en 44-jarige aangekeer vir die onwettige verkoop van drank. Tonjeni sê terwyl die polisie gereed gemaak het om die toneel te verlaat het ’n groep hulle met klippe bestook en sowat R50 000 se skade aan ’n polisievoertuig aangerig. Niemand is in die voorval beseer nie.
Tonjeni sê hulp is ingeroep, waarna vyf vroue en vier mans op ’n klag openbare geweld aangekeer is. Hy sê verdere inhegtenisnemings word verwag.