Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, gaan die vermoorde Bafana Bafana-sokkerster Senzo Meyiwa se familie as regsverteenwoordiger bystaan.
Die eenheid se ondersoekers gaan ook help met die moordondersoek.
Meyiwa (27), wat ’n voormalige doelwagter en kaptein van die nasionale sokkerspan was, is vyf jaar gelede tydens ’n rooftog by die sangeres Kelly Khumalo se huis in Vosloorus, Johannesburg, doodgeskiet.

Senzo Meyiwa hier afgeneem ten tyde van ’n wedstryd tussen sy span, Orlando Pirates, en Kaizer Chiefs op 20 September 2014 in Durban. ’n Maand later is Meyiwa ten tyde van ’n huisrooftog doodgeskiet. Sy moordenaar(s) is nog op vrye voete. Foto: Gallo
Sy familie is vroeër in kennis gestel dat die moordondersoek in Februarie afgehandel is en dat ’n aanklaer in Mei aan die saak toegewys is.
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het tot op hede egter geen vervolging ingestel nie en die familie het AfriForum om hulp genader.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregteorganisasie, het Dinsdag gesê hulle wil nie die ondersoek oorneem nie, maar het die vermoë in hul eenheid om die polisie te kan help.
“Ons kan nie belowe dat ons die saak sal oplos nie, maar ons kan belowe dat ons ons uiterste bes sal doen om seker te maak geregtigheid geskied vir die Meyiwa-familie.”
Kriel het bygevoeg dit is belangrik vir AfriForum om by sake soos dié betrokke te raak, want dit is in die hele land se belang dat die Suid-Afrikaanse regstelsel “na behore funksioneer”.
“AfriForum is ’n teenwig vir staatsverval en dit is ons plig as burgerregtewaghond om toe te sien dat die land se strafregstelsel nie in duie stort nie,” het Kriel gesê.
Volgens hom moet daar standpunt ingeneem word.
“Daar is opnames van gesprekke tussen die familie en sekere rolspelers,” het hy gesê en verwys na een waar ’n “senior lid van die NVG aanvoer dat van die getuies (in die moordondersoek) jok.
“(Indien wel), verwag ons dat die NVG optree (teen die getuies) en as die NVG weet dat iemand leuens vertel, moet hy mos ’n idee hê wat die waarheid is,” het Kriel bygevoeg.

Sifiso Meyiwa, die vermoorde sokkerspeler se broer, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Adv. Elijah (Tiger) Mamabolo tydens die aankondiging dat AfriForum gaan help met die ondersoek na Senso Meyiwa se moord. Foto: Reint Dykema
Adv. Elijah (Tiger) Mamabolo, ’n senior aanklaer by AfriForum, het op ’n mediakonferensie gesê: “Hierdie familie is deur baie. Ons vra mede-Suid-Afrikaners, enigiemand met inligting oor die moord, om na vore te kom. Doen die regte ding.”
Sifiso Meyiwa, die vermoorde sokkerster se broer, het op sy beurt gesê hulle het AfriForum genader om te help om die moord op te los.
“Met hul hulp wil ons Senzo se nagedagtenis eer deur te verseker dat geregtigheid geskied en sy moordenaars tot verantwoording gebring word,” het hy gesê.
Hy het ’n beroep op “alle Suid-Afrikaners van alle rasse” gedoen om saam te staan.