Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Advokaat vertel hoe hy 2 van polisie moes omkoop

Dat hy as advokaat van Pretoria, wat ook al as regter waargeneem het, sy regte ken, het hom net mooi niks gehelp toe twee polisiemanne hom glo Saterdagaand oor die langnaweek wou toesluit as hy hulle nie R10 000 betaal nie.

Die een polisielid het na bewering ook sommer adv. David Smith SC (67) se voertuig vir hom huis toe bestuur om die geld te kry, en glo toe daar ook ’n peperduur bottel versamel-likeur vir homself toegeëien.

Twee lede van die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria het adv. David Smith SC na bewering gedwing is om vir hulle geld te gee sodat hulle hom nie oor die langnaweek opsluit nie. Foto: Verskaf

“Wat kon ek maak? ’n Mens is weerloos in so ’n situasie, veral as die een agter jou kar se stuurwiel inklim. Ek wou nie van Saterdagaand tot Dinsdagoggend in ’n polisiesel toegesluit wees nie,” sê Smith oor hoekom hy uiteindelik R3 000 aan die polisielede gegee het.

Brig. Mothapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie is bewus van die bewerings teen die twee lede van die Brooklyn-polisiekantoor. Die Gautengse teenkorrupsie-eenheid sal nou saamwerk met Smith en hom op die hoogte hou van hoe die saak vorder.

Smith het bevestig dat lede van die eenheid hom Woensdag besoek het nadat hy die voorval reeds Sondag aangemeld het.

Hy is steeds getraumatiseerd ná Saterdag se gebeure kort nadat hy omstreeks 19:45 kos by ’n eetplek in Atterburyweg gaan oplaai het.

Smith sê op pad terug na sy huis het ’n polisievangwa met flitsende blou ligte hom gestop.

Een polisieman het nadergestap en sy rybewys gevra, wat Smith uit sy beursie gehaal en getoon het.

“Toe gee die polisieman dit terug en sê ek moet uitklim,” sê Smith.

Die polisielid het beweer dat Smith na drank ruik en dat hulle hom na die Brooklyn-polisiekantoor gaan neem om sy bloed te trek. Hy sou ook aangehou word totdat hy Dinsdag ná die langnaweek in die hof kon verskyn.

“Ek het die middag laas ietsie by die huis gedrink,” sê Smith.

Volgens hom was die twee polisielede intimiderend en “glad nie vriendelik nie”.

En gewapen.

“En ek wou nie die hele langnaweek in die selle sit nie! Daar was niks wat ek teen die polisiemanne kon doen nie. Ek het toe verduidelik dat ek net R1 000 in my beursie het.”

Die polisiemanne het dit na bewering gevat, maar was skynbaar nog nie tevrede nie.

Smith het glo uit desperaatheid gesê daar is nog R2 000 by sy huis.

En ek wou nie die hele langnaweek in die selle sit nie! Daar was niks wat ek teen die polisiemanne kon doen nie. Ek het toe verduidelik dat ek net R1 000 in my beursie het.

Hy is glo beveel om oor te skuif na die passasiersitplek van sy Porsche Cayenne, waarna die een polisieman agter die stuurwiel ingeklim het. Hy het Smith se voertuig glo tot by sy huis bestuur – met sy kollega agterna in die vangwa met die flitsende ligte.

Tuis moes Smith sy elektriese motorhek oopmaak en die polisieman het met die luukse voertuig ingery. Die vangwa het by die hek gewag.

“Hy (die polisieman) het by my huis ingestap! Ek het die geld gaan kry. Hy het intussen na my kroeg by die eetkamer gestap. Toe tel hy ’n duur bottel likeur, onoopgemaak, op en sê dis sy favourite en hy vat dit ook.”

Smith is Sondag na die Brooklyn-polisiekantoor waar hy die voorval aangemeld het. Hy het ook onthou van ’n private veiligheidsmaatskappy se kringtelevisiekameras in sy straat en het hulle gekontak.

“Die kameras wys die polisievoertuig – gemerk ‘Brooklyn’, met die nommerplaat sigbaar – Saterdag om 20:02 voor my huis. Ek het die polisiekantoor geskakel en daarvan in kennis gestel.”

Die ondersoekbeamptes het Woensdag onderneem om ’n verslag hieroor van ADT te bekom.

Meer oor:  Polisie  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.