Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Afgelope feestyd was ‘die veiligste’, sê Cele

Hoewel daar in die feestyd ’n “massale afname” in moorde en ander groot misdade was, het motor- en vragmotorkapings die afgelope vakansieseisoen skerp in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar gestyg.

Dit het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag in Durban gesê toe hy ’n verslag met die nasionale misdaadstatistieke oor die afgelope feestyd uitgereik het.

Cele beskryf die afgelope feestyd as “die veiligste” danksy die afname in talle misdaadkategorieë.

Volgens hom het die aantal moorde landwyd in vergelyking met die vorige feestyd met 1,4% afgeneem.

Alle ander kontakmisdade, behalwe aanranding en roof met verswarende omstandighede, het ook afgeneem.

“Vroue en kinders was hierdie feestyd ook veiliger wat verkragting, seksuele aanranding en poging tot seksuele aanranding betref deurdat dit met 9,9% afgeneem het.”

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag die afgelope feestyd se misdaadstatistieke bekend gemaak.Foto: SON

Hy het alle polisiebeamptes – wie se feestyd van 15 Oktober tot 11 Januarie geduur het – bedank vir hul harde werk om te verseker dat die feestelikhede binne die wet kon geskied.

Volgens hom was operasionele planne, veral oor naweke en in gebiede waar drankmisbruik die hoogste was, dwarsdeur die feestyd in werking.

Hy het gesê polisiebeamptes het op groot skaal patrolliewerk, stop-en-deursoek-operasies en padversperrings gehou, terwyl talle onwettige drankplekke by voldoeningsinspeksies gesluit is.

Cele het gesê hy het self die land in Desember deurkruis om polisie-operasies te assesseer en waar te neem hoe inwoners, vakansiegangers en oorsese besoekers veilig gehou en misdadigers slapelose gegee is.

Volgens hom is die slagspreuk “Zizojika Izinto” aangeneem omdat hy en die polisie saamgestem het dat dinge hierdie keer anders gedoen moes word as die polisie die misdaadgety wou omdraai. Losweg vertaal beteken dit “dinge sal verander”.

Wat eiendomsverwante misdade betref, het Cele gesê inbrake by huise en sakeondernemings, sowel as diefstal uit voertuie en veediefstal, het gesamentlik met 10,2% gedaal.

“Met al dié afnames, is ek bewus dat daar steeds sommige hardnekkige misdade is wat dringende ingryping en hulpbronne benodig.

“Terwyl 388 verdagtes in dié tydperk in hegtenis geneem is weens motorkapings, was daar meer motor- en vragmotorkapings in die 2019-feestyd. Dit was onderskeidelik 11% en 9% hoër.”

Volgens Cele is vuurwapens in die meeste misdade gebruik, en is daar op 4 831 vuurwapens in dié tyd beslag gelê.

Sowat 24 827 motoriste is ten spyte van die talle waarskuwings en opvoedings- en bewustheidsveldtogte weens dronkbestuur aangekeer. Dit is 4 048 meer as in die vorige feestyd.

Cele het bygevoeg dat alkohol “die vyand van ons samelewing bly en ’n hoofoorsaak van baie kontakmisdade is”.

Oor die feestyd is 6 124 onwettige drankwinkels en sjebiens toegemaak. Sowat 2 000 hiervan was in die Oos-Kaap.

In totaal is sowat 84 000 verdagtes weens verskeie misdade aangekeer. Dit sluit in 173 verdagtes wat op parool was. Sowat 17 000 van hulle is steeds agter tralies en word vervolg.

Hy het polisiebeamptes wat self by misdade betrokke was, veroordeel en belowe dat hulle behoorlik gestraf sal word.

Cele het ook landsburgers, gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwagte vir hul samewerking geloof.

Volgens hom is die feestyd verby, maar die stryd teen misdaad duur voort. “Laat ons die ruimte vir misdadigers toedruk!” was sy opdrag aan alle polisiebeamptes.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Feestyd  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.