In die 2018-’19-boekjaar het 48 plaasaanvalle, waarvan sewe plaasmoorde was, in die Vrystaat plaasgevind.
Die Vrystaat het egter vanjaar net van Januarie tot Junie reeds 14 plaasaanvalle gehad.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL). Foto: André Damons
Die syfers sluit egter nie in die moorde op Sakkie (67) en Ina van der Berg (62) van die plaas Bloubos buite Boshof, en dié op Johannes Mazibuko (71), ’n opkomende boer van Frankfort, wat kort na mekaar vermoor is nie.
Van die sewe moorde wat in die tydperk in die provinsie gepleeg is, was twee boere, drie opkomende boere, ’n plaaswerker en ’n persoon wat ’n winkel op ’n plaas bedryf het.
Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou (VL), wat die syfers saamgestel het, sê as die syfers egter vergelyk word met die 2016-’17-boekjaar en die 2017-’18-boekjaar was daar ’n afname in plaasaanvalle in die provinsie.
In dié tydperke was daar 66 en 60 aanvalle onderskeidelik in die Vrystaat.
In die 66 plaasaanvalle wat in 2016-’17 gepleeg is, is een boer en vyf werkers vermoor, terwyl vier boere en drie plaaswerkers in die 60 aanvalle in 2017-’18 vermoor is.
Volgens Buys is die afname grootliks danksy vooraf-inligting en die vroeë waarneming van verdagte voertuie of mense. Dié inligting word gewoonlik deur werkers en boere deurgegee.
“Dit sluit ook in inligting oor geld en vuurwapens in huise wat aanvallers aan huiswerkers vra, inligtingsnetwerke van die polisie se misdaadintelligensie en eenheid vir openbare orde, asook plaaswag-strukture,” sê Buys.

Foto: André Damons
Goeie vennootskappe in die Landelike-beveiligingstrategie (LBS) dra volgens Buys ook by tot die sukses van ’n proaktiewe benadering oor plaasveiligheid.
“Net drie (uit 20) boere wat lede van georganiseerde landbou is, was die afgelope finansiële jaar in die Vrystaat in plaasaanvalle die teiken,” sê sy.
Die betrokkenheid van landbougemeenskappe in die LBS, die deurlopende instandhouding van verhoudings met die polisie, bure, gemeenskappe, werkers en inwoners op plase, asook die opskerping en verbetering van kommunikasienetwerke soos WhatsApp-groepe en radionetwerke, dra alles by tot beter veiligheid op plase.
“Die aanbieding van opleidingsessies om landbougemeenskappe te bemagtig en hulle te leer hoe om in noodsituasies op te tree, help ook met die skepping van ’n veiliger kommersiële landbousektor,” sê Buys.
Vrystaatse dorpe wat die ergste geraak is met plaasaanvalle die afgelope drie jaar, is Bloemfontein, Clocolan, Harrismith, Ficksburg en Ladybrand.
Tientalle plaasaanvalle is ook voorkom - in die kalenderjare 2016 (14 aanvalle), 2017 (16), 2018 (31) en vanjaar tot einde Junie is reeds 14 aanvalle gekeer.
14 aanvalle is in 2016 voorkom, 16 in 2018 en 31 in 2019. Vanjaar is 14 plaasaanvalle tot Junie voorkom.