Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
AfriForum ‘wil stilte oor geweld teen vroue verbreek’
Monique van Oosterhout en adv. Gerrie Nel.Foto: Andrea Küsel

Daar is ’n stilte in die samelewing wat verbreek moet word en daarom gaan AfriForum vir Alexis Bizos, seun van die menseregteadvokaat George Bizos, op aanklag van aanranding vervolg.

“Daar is ’n plaag van geweld teen vroue in ons samelewing. Ons moet dié plaag uitroei.

“Ons het ’n stilte in ons samelewing, veral in dié geval. Senior mense wat van die voorval geweet het, het nie na vore gekom om aktief die plaag te beveg nie,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Dinsdag op ’n mediakonferensie in Centurion gesê.

Nóg ’n rede vir dié private vervolging is dat AfriForum “glo in die konsep van gelykheid voor die reg. Dit beteken ’n persoon moet vervolg word ongeag politiese redes, sy familiebande of enige ander rede,” sê Kriel.

Kriel sê Bizos jr. het sy vrou van 23 jaar, Monique van Oosterhout, na bewering verskeie kere aangerand. Die egpaar is besig om te skei.

Die spesifieke voorval waarvoor hy nou vervolg word, het op 16 Maart 2015 plaasgevind. Tydens dié aanranding is ses van haar ribbebene gebreek.

Bizos is in hegtenis geneem, maar die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het later besluit om hom nie te vervolg nie.

“My gevolgtrekking is dat vervolging nie voortgegaan het nie vanweë die oortreder se familiebande en sy van. Dit is onaanvaarbaar,” sê Kriel.

’n Jaar later is sy in kennis gestel dat die NVG nie vir Bizos gaan vervolg nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, sê Van Oosterhout het in September 2015 ’n nolle prosequi-sertifikaat vanaf die NVG ontvang. Met so ’n sertifikaat doen die NVG daarvan afstand om self die saak verder te voer.

Volgens Nel het Van Oosterhout die NVG gevra om sy besluit te hersien. “Baie tyd het verbygegaan. Die NVG het gesê hy sou sy besluit hersien, waarna die dossier weggeraak het en weer eens het baie tyd verloop. ’n Jaar later is sy in kennis gestel dat die NVG nie vir Bizos gaan vervolg nie,” sê Nel.

Van Oosterhout het toe vir AfriForum genader. Die nolle prosequi-sertifikaat het egter intussen verval en daar moet nou opnuut aansoek gedoen word hiervoor.

“Wanneer ’n slagoffer se hulpkrete onbeantwoord gelaat word deur haar naaste familie en omgewing en sy haarself telkemale teen die spreekwoordelike muur vasloop, voel dit vir haar asof sy alleen staan. Dit laat die slagoffer voel asof die einste wette wat daar is om haar te beskerm en ondersteun, haar in haar oomblik van nood in die steek gelaat het,” sê Nel.

Nel sê Van Oosterhout het versoek dat die media haar nie kontak nie.

Pogings is Dinsdag aangewend om George en Alexis Bizos vir kommentaar te nader.

AfriForum is ook op húlle spoor

Die nuutste oor ander vervolgings waarmee Nel en AfriForum tans besig is:

* Duduzane Zuma

Zuma word vervolg weens die dood van Phumzile Dube (30) wat in 2014 op slag dood is toe Zuma in sy Porsche met ’n minibustaxi gebots het. Die NVG het in Augustus 2015 besluit om hom nie te vervolg nie.

Nadat AfriForum die proses aan die gang gesit het om Zuma privaat te vervolg, het die NVG einde Januarie vanjaar sy besluit heroorweeg. AfriForum wag nou vir die NVG se besluit. Indien die NVG nie hom vervolg nie, sal Nel voortgaan om private vervolging in te stel.

* Jacob Zuma

Kriel sê die voormalige president sal beslis sy dag in die hof hê. Indien die NVG besluit om Zuma nie te vervolg nie, baan dit die weg vir AfriForum om hom wel te vervolg.

* Nomgcobo Jiba

Nel het in November 2017 bekend gemaak hy en AfriForum vervolg Jiba namens genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. AfriForum voer aan Jiba het bedrog en meineed gepleeg terwyl sy Booysen weens rampokkery ondersoek het.

Die hooggeregshof het beslis dat die NVG se besluit om haar nie te vervolg nie irrasioneel was en het dit ter syde gestel. Die NVG moet nou weer besluit of hy Jiba gaan vervolg. Indien nie, sal Nel haar wel vervolg.

* Grace Mugabe

Mugabe het vroeër diplomatieke immuniteit ontvang nadat sy na bewering ’n model in Suid-Afrika aangerand het. AfriForum het ’n hofsaak aanhangig gemaak om dié immuniteit ter syde te stel. Die saak word op 10 en 11 Mei in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.