Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Agri SA sê plaasmisdaad verg oorkoepelende fokus

Verskeie boereverenigings langs die Oranjerivier oorweeg dit reeds om van Fidelity ADT se dienste gebruik te maak nadat dié veiligheidsmaatskappy ’n samewerkingsooreenkoms met Agri SA onderteken het om plaasgemeenskappe te beveilig.

Dié inisiatief is een van Agri SA se oplossings om misdaad op plase te bekamp omdat die polisie nie altyd die nodige hulpbronne het om dit te doen nie, sê Tommie Esterhuyse, Agri SA se hoof van landelike veiligheid.

“Plaaswagte word oorweldig deur misdaad en daarom moes ons aan planne dink,” sê hy.

Soos ek dit verstaan, sal Fidelity in elke gebied ’n afsonderlike studie doen om te bepaal wat die behoeftes van boere en plaaswerkers is.

Die inisiatief behels ’n oorkoepelende benadering waarin Agri SA en Fidelity ADT veiligheidstrategieë beplan en met die polisie, plaaswagte en die gemeenskap saamwerk om dit uit te voer.

As deel van die ooreenkoms kan boere Fidelity ADT raad vra oor veiligheidstoerusting en hoe om dit doeltreffend in te span. Fidelity sal die toerusting teen ’n billike prys aan hulle verkoop.

Esterhuyse sê individuele boere, Fidelity ADT en Agri SA sal die projek finansier.

Hy het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Centurion gesê Agri SA gaan voorleggings aan verskeie landbou-unies doen om boere betrokke te kry.

Wian van Rensburg, hoof van die Oranjerivier-landbou-unie, waar Agri SA reeds sy planne voorgelê het, sê verskeie boereverenigings langs die Oranjerivier is optimisties oor die voorstel en sommige stel reeds belang.

“Soos ek dit verstaan, sal Fidelity in elke gebied ’n afsonderlike studie doen om te bepaal wat die behoeftes van boere en plaaswerkers is,” sê Van Rensburg.

Een voorstel is dat kringtelevisiekameras in ’n groot gebied aangebring word om misdaad beter te monitor.

Agri SA en Fidelity ADT se ooreenkoms het reeds op 1 Februarie begin en sal volgens Esterhuyse stelselmatig geïmplimenteer word.

Hy sê genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het op ’n onlangse vergadering goed op die samewerkingsooreenkoms gereageer.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê ADT Fidelity se betrokkenheid behoort in die toekoms groter “slaankrag” aan boere te gee.

“Ons moet egter nie al ons hoop op private veiligheidsmaatskappye plaas nie, want hulle het in baie gevalle nie die mandaat om soos die polisie op te tree nie. Daar moet ’n goeie balans van samewerking tussen veiligheidsmaatskappye, die gemeenskap en die polisie wees,” sê hy.

Daan van Leeuwen-Boomkamp, hoof van die Drakenstein-plaaswag in die Paarl in die Wes-Kaap, sê hulle werk die afgelope vyf jaar saam met die plaaslike Fidelity ADT-tak.

Dié plaaswagvereniging het met die veiligheidsmaatskappy se samewerking verskeie kringtelevisiekameras en ’n radiostelsel in die Drakenstein-gebied opgerig.

“Ons het 23 veiligheidswagte van Fidelity ADT wat op ons WhatsApp-groepe is. As daar ’n noodsituasie is, kan hulle dadelik reageer,” sê hy.

“Die doel is nie om eie reg te gebruik nie. Die polisie het egter nie die vermoë om ons te beveilig nie en daarom moet ons self optree en doen wat ons kan,” sê hy.

Meer oor:  Fidelity Adt  |  Agri Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.