Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aktivis glo met hamer en ysterpyp vermoor

Annette Kennealy (50), ’n kampvegter teen plaasmoorde, is met ’n vierpondhamer en ’n ysterpyp doodgeslaan in haar huis op ’n afgeleë hoewe buite Louis Trichardt in Limpopo.

Annette Kennealy (50) wat op ’n hoewe buite Louis Trichardt vermoor is. Foto: VERSKAF

Doors le Roux, ’n buurman wat Dinsdagoggend op Kennealy afgekom het, sê die hamer en ’n ysterpyp is naby haar bebloede lyk gekry. Sy het op haar maag gelê in ’n klein gang naby die kombuis. Sy het diep wonde aan haar kop gehad.

“Ek het die agterdeur oopgemaak en haar daar sien lê . . . Dit was baie erg. Ek het dadelik uitgeloop en begin bewe van skok.”

Kennealy is moontlik al Maandag in haar huis op die afgeleë hoewe, sowat 20 km uit op die Levubu-pad, vermoor. Sy was Maandagoggend om 09:00 die laaste keer aktief op haar selfoon, berig Isabel Venter.

Le Roux sê Kennealy se gewese man, Martin, het hom Dinsdag gebel en gesê hy is bekommerd omdat hy haar nie in die hande kry nie. Die egpaar is jare gelede geskei, maar was steeds vriende. Kennealy het Maandagaand ook nie gereageer op ’n roetine-“roepsein” van die burgerbandradio nie.

Le Roux sê toe hy by die huis stilhou, was al die deure en vensters aan die voorkant van die huis toe. “Ek het gedink sy is nie daar nie, maar toe het ek haar voertuie daar gesien.”

Hy het agter om die huis geloop en “koewie, koewie” geroep. Niemand het geantwoord nie. Die boonste deel van die agterdeur was oop en dit is toe dat hy ingegaan het.

“Sy was ’n baie goeie vriendin van my, wat gebeur het is bitter erg.”

’n Werker (40) van Kennealy is Dinsdagaand deur die Makhado-polisie in Louis Trichardt in samewerking met die plaaswag in hegtenis geneem.

Annette Kennealy (50) wat glo met ’n hamer en ysterpyp doodgeslaan is. Foto: VERSKAF

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die werker word nog ondervra en dit is nie duidelik wanneer hy in die landdroshof in Louis Trichardt sal verskyn nie.

Le Roux en Kim Harris, Kennealy se suster, het gesê daar was onlangs glo ’n arbeidsgeskil tussen Kennealy en die werker.

“Dit is goed dat hy in hegtenis geneem is, maar dit bring haar ongelukkig nie terug nie,” het Le Roux gesê. Die werker het sowat vier jaar vir haar gewerk.

Kennealy was ’n skilder en ’n groot diereliefhebber. Sy het in 2013 ’n skets van die sanger Anton Goosen geskilder.

Goosen het Woensdag in reaksie op Netwerk24 se berig oor die moord op Kennealy geskryf: “Rus in Vrede Annette. Hierdie is verskriklik! Ken jou sedert 1990, jy het nie hierdie verdien nie.”

Kennealy was van 2011 tot 2014 ’n DA-raadslid in die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt.

Meer oor:  Annette Kennealy  |  Louis Trichardt  |  Aktivis  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.