Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aktivis op hoewe vermoor

Twee wrede plaasaanvalle in Gauteng en Limpopo waarin ’n skoolmeisie verkrag en ’n vrou vermoor is, het skokgolwe deur dié landelike gemeenskappe gestuur.

In Westonaria is ’n 17-jarige meisie Maandagoggend verkrag nadat vyf mans haar en haar pa oorval het. Dinsdagoggend is die lyk van Annette Kennealy (50), ’n kunstenaar, voormalige DA-lid en aktivis teen plaasmoorde, op haar hoewe buite Louis Trichardt gekry.

Annette Kennealy

Volgens die polisie is die gr. 11-meisie van ’n plaas buite Westonaria en haar pa (55) Maandag omstreeks 05:30 oorval terwyl hulle op pad was na haar skool.

Die mans het hulle in die huis ingedwing, die pa oor die kop geslaan en die meisie verkrag.

Daarna het die rowers met die gesin se silwergrys Ford Ranger, vuurwapens en ander huishoudelike artikels gevlug.

Die voertuig is later verlate in die Zenzele-informele nedersetting naby Westonaria gevind.

Nog niemand is teen gistermiddag aangekeer nie.

’n Buurman het die pa en dogter na ’n hospitaal geneem.

Hulle is reeds ontslaan. Die gesin is erg getraumatiseer en woon tydelik by vriende in ’n nabygeleë dorp.

Die moord op Kennealy het gister wye kommentaar uitgelok.

Die skildery wat Annette Kennealy van Anton Goosen gemaak het.

Anton Goosen, van wie Ken­nealy in 2013 ’n skildery gemaak het, het op Facebook geskryf: “R.I.V ai Annette ek is so jammer om te hoor.”

Kennealy se laaste Facebook-inskrywing Sondagaand was juis ’n skakel na ’n berig oor die toename in plaasmoorde.

Kim Harris, Kennealy se suster, het gistermiddag gesê: “Alles voel te onwerklik, ek kan dit nie glo nie.” Sy sê die polisie wou nie die familie naby die misdaadtoneel toelaat nie. “Al wat ek weet, is dat dit ’n baie wrede moord was.”

Daar is ’n ysterpyp en ’n hamer op die moordtoneel gekry waarmee Kennealy glo doodgeslaan is.

Harris sê haar suster se geliefde vyf honde “hardloop verwilderd op die plot rond”. Sy beskryf haar suster as “groter as die lewe self”.

’n Lid van die plaaslike buurtwag wat anoniem wil bly, sê Kennealy het elke aand ná 18:00 ingeskakel op ’n burgerbandradiokanaal wat boere in die omgewing vir veiligheid gebruik. Sy het glo nie Maandagaand ingeskakel nie.

Vriende het Dinsdagoggend bekommerd geraak toe sy ook nie haar selfoon beantwoord het nie en is na die hoewe, sowat 20 km buite Louis Trichardt op die pad na Levubu, waar hulle op haar lyk afgekom het.

Kennealy het alleen op dié afgeleë hoewe gewoon. Sy is geskei. “Sy was baie paraat,” sê Harris.

Sy het ’n winkel in die dorp besit wat produkte vir diere verkoop.

Sy was van 2011 tot 2014 ’n DA-raadslid in die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, is geskok oor die moord op Kennealy.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die polisie soek na Kenny Rama- t­shimbila van die Mauluma-gebied in die Vhembe-distrik – ’n werknemer van Kennealy – om hulle in die ondersoek te help.

Meer oor:  Annette Kennealy  |  Louis Trichardt  |  Limpopo  |  Gauteng  |  Plaasaanvalle  |  Misdaad  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.