Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aktivis se werker aangekeer in verband met haar moord

’n Man wat by Annette Kennealy (50) gewerk het op die hoewe buite Louis Trichardt in Limpopo waar sy vermoor is, is Dinsdagaand deur die polisie in hegtenis geneem.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig dat die man (40) vir ondervraging in hegtenis geneem is.

Die polisie in Louis Trichardt het in samewerking met die plaaslike dorpswag die man se spoor gevolg totdat hy in hegtenis geneem is.

Annette Kennealy

Kennealy se lyk is Dinsdag op haar hoewe, sowat 20 km buite Louis Trichardt op die pad na Levubu, gekry. Sy het alleen op die afgeleë hoewe saam met haar vyf honde gebly.

Kennealy was Maandagoggend 09:00 die laaste keer aktief op haar selfoon, het Netwerk24 vroeër berig. Sy was geliefd in die omgewing en vriende het bekommerd geraak toe sy Maandagaand nie soos gewoonlik op die daaglikse “roeptye” op die burgerbandradio ingeskakel het nie.

Toe sy Dinsdagoggend ook nie haar selfoon beantwoord nie, is ’n vriend na haar huis waar hy op haar lyk afgekom het.

Ngoepe kon nie sê of daar enigiets uit Kennealy se huis gesteel is nie.

Daar is ’n ysterpyp en ’n hamer naby haar gekry. Ngoepe sê sy het ook steekwonde aan haar liggaam gehad.

Kennealy was ’n kampvegter daarvan om mense bewus te maak van die erns van plaasaanvalle en -moorde in die land.

Henk van de Graaf van TLU SA sê Kennealy het haar bewyer om die gruwel van plaasmoorde en -aanvalle nie net in die land nie, maar ook internasionaal bekend te maak.

“As iemand soos sy wat as ’n aktivis bekend was, self ’n slagoffer word, wonder ’n mens of daar nie meer agter die moord was as ’n ‘gewone’ plaasmoord nie,” sê De Graaf in ’n verklaring.

Dit is nog nie duidelik wanneer die man wat weens haar moord aangekeer is in die landdroshof in Louis Trichardt sal verskyn nie.

Meer oor:  Annette Kennealy  |  Misdaad  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.