Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aktivis teen myn in huis vermoor

Vier gewapende mans het ’n vurige teenstander van ’n antrasiet-en-steenkoolmyn se planne om in die rigting van die Hluhluwe-iMfolozi-natuurreservaat, in die noorde van KwaZulu-Natal, uit te brei, Donderdagaand in haar huis oorval en doodgeskiet.

Fikile Ntshangase (65) is na verneem word vyf keer in die teenwoordigheid van haar 11-jarige kleinseun in hul huis in Ophon­dweni, naby die reservaat, doodgeskiet.

Sy was visevoorsitter van die Mfolozi Community Environ­mental Justice Organisation (MCEJO), wat betrokke is by twee hofsake teen die Somkhele-myn en sy eienaar, Tendele Coal (Ltd).

Die MCEJO se saak teen Tendele word op 3 November in die appèlhof aangehoor.

Die sentrum vir omgewingsregte (CER) sê in ’n verklaring hy is “geskok en verpletter” oor haar dood. “Ons is diep bedroef.”

Die sentrum het sy medelye uitgespreek met Ntshangase se familie en sê hy staan saam met die MCEJO se prokureur, Kirsten Youens.

Richard SpoorFoto: DEON RAATH

Youens het laataand ’n foto van Ntshangase getwiet waar sy vermoedelik op ’n vergadering met Tendele gepraat het.

“Ek sal Ntshangase altyd onthou vir haar moedige stryd teen Tendele se planne om uit te brei.

“Sy is vanaand (Donderdagaand) voor haar jong kleinseun doodgeskiet en haar vuur en moed is vir altyd weg. Ons is verpletter deur haar dood.”

Die menseregteprokureur Richard Spoor sê in reaksie daarop Ntshangase is vermoor omdat sy vir haar grond en leefwyse geveg het.

Die CER sê voorts sy lede eer Ntshangase vir haar aktivisme en krag en haar verbintenis tot die welstand van haar gemeenskap.

“Ons doen ’n beroep op die polisie om ’n behoorlike ondersoek te doen en die skuldiges voor die gereg te bring.

“Ons vra ook die polisie om bykomende beskerming te bied aan aktiviste in die omgewing.”

Volgens die CER is gewelddadige aanvalle op aktiviste en intimidasie in die gebied aan die toeneem.

“Ons is kwaad oor die manier waarop die vernietigende aktiwiteite van steenkoolmyne gemeenskappe verdeel.

“Ons is kwaad oor die manier waarop steenkoolmynhuise enkelinge in geaffekteerde gemeenskappe dwing om te kies tussen geld en die beskerming van hul grond, water en lug waarvan hul lewe afhanklik is.

“Ons is kwaad omdat diegene wat in die voorste linie teen steenkoolmyne veg, die juk moet dra van die vernietiging van hul omgewing en gemeenskap en heel dikwels met hul lewe daarvoor moet boet.”

Jan du Preez, Tendele se uitvoerende hoof, sê die gemeenskap is “baie opstandig”, maar 20 000 mense is van die myn afhanklik. As die myn toemaak, sal al hierdie mense die kos op hul tafel ontneem word.

Hy sê die moord op Ntshangase is skokkend en Tendele het niks daarmee te doen gehad nie.

Luidens ’n verklaring van die “gekose leiers van die gemeenskap”, wat ook die mynvakbonde se steun geniet, is hulle “geskok” oor die “sinlose” moord op Ntshangase.

“Ons bid dat God se liefde genesing sal bring.”

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Kwazulu-Natal  |  Myn  |  Doodgeskiet  |  Aktivis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.