Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aktivis van PE vra parlement se hulp teen misdaad

’n Kampvegter teen misdaad het by die parlement aangeklop vir hulp teen die voortslepende bende- en geslagsgeweld in die noordelike voorstede van Port Elizabeth.

Die gebied is reeds jare lank berug weens die dodelike skietvoorvalle tussen vyandige bendes, maar dit word sedert onlangs oorskadu deur die moorde op vroue, sê Christian Martin, ’n Khoi-San-aktivis en kampvegter teen misdaad.

Martin het Dinsdag amptelik in ’n brief ’n dringende uitnodiging gerig aan die ANC-LP Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie, om die gebied te besoek en saam met plaaslike leiers ingrypings teen die probleem in te stel.

Christian Martin, ’n Khoi-San-aktivis en kampvegter teen misdaad, het Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie, se hulp gevra in die stryd teen die voortslepende geweld in Port Elizabeth se noordelike voorstede. Foto: Argief

Netwerk24 het onlangs berig oor die moord op drie vroue binne twee weke in dié gebied. Een hiervan was die verkragting en moord van die 14-jarige Patronicia (Mandy) Jordaan, wat na bewering verlede week in ’n huis in Gelvandale om die beurt deur ’n groep mans verkrag is voordat sy vermoor is. Haar lyk is met steekwonde in ’n bebosde gebied tussen Algoapark en Gelvandale gekry.

Maar Martin sê volgens sy inligting is agt vroue reeds sedert die begin van die jaar in die noordelike voorstede vermoor.

“Die jaar is slegs 12 dae oud en ons het reeds verskriklike moorde beleef. Hier was ’n 14-jarige ’n slagoffer; nog ’n vrou se lyk is verbrand nadat sy vermoor is. Gaan dit die moord van ’n prominente persoon verg voordat daadwerklik aandag aan die gebied gegee word?” vra Martin.

Volgens hom was daar verlede jaar sowat 170 moorde in die gebied. Die meeste slagoffers is tussen 12 en 40 jaar oud.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het nie Martin se statistieke bevestig nie.

Patronicia (Mandy) Jordaan (14) is een van drie vroue wat onlangs binne twee weke in Port Elizabeth se noordelike voorstede vermoor is. Foto: Facebook, S.N.A.K. (Northern Alliance)

Die jongste misdaadstatistieke van die 2019-’20-boekjaar wys wel dat 211 moorde gesamentlik in die Bethelsdorp- (152) en Gelvandale-polisiekantoor (59), die twee polisiekantore wat die grootste deel van die noordelike voorstede bedien, aangemeld is.

Volgens Martin het Bheki Cele, minister van polisie, die gebied in 2019 ná ’n uitnodiging besoek. Hy sê die besoek het geen beduidende verskil aan die gebied se misdaadsyfer gemaak nie, en so ook nie die talle optogte deur gemeenskapslede of besoeke van ander afgevaardigdes nie.

“My vrees is dat mense al hoe meer eie reg sal gebruik as daar nie ingryping kom nie.”

Minstens twee mans van Port Elizabeth, wat onderskeidelik van verkragting en huisbraak deur die gemeenskap beskuldig is, is die afgelope twee weke in voorvalle van boendoegeregtigheid dood.

Martin sê hy het reeds vooraf gesprekke met Joemat-Pettersson gehad en is hoopvol sy kan deur die portefeuljekomitee help om ’n interregeringsplan teen misdaad hier in te stel, en ook om die betrokke amptenare verantwoordbaar te hou indien die uitvoering van die plan misluk.

Joemat-Pettersson het nie onmiddellik op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.